‘n Hawelose man wat in ‘n stormwaterpyp in Kroonstad vasgekeer was, is deur die owerhede na veiligheid gebring.
Op Vrydag 22 Augustus het ‘n inwoner van Sarel Cilliersstraat, Panorama, Kroonstad owerhede in kennis gestel dat hul huiswerker ‘n man in die stormwaterpyp sien lê het. Hulle was nie seker of hy lewe nie.
Raadslid Spaski Geldenhuis sê nadat hulle die inligting ontvang het, het hy dadelik gaan ondersoek instel en kon bevestig dat die man nog leef nadat hy met sy hand gewaai het.
Hy het die buurtwag en nooddienste ontbied. Die man wat ‘n burger van Zimbabwe is, het beweer dat hy in die stormwaterpyp wou slaap en was van 21 Augustus af in die pyp vasgekeer.
Die Kroonstadse brandweerdiens is ontbied om met meganiese reddingskake die sementblad op te lig sodat hulle die man kon bevry. Die man is veilig en ongedeerd. Sy identiteit is onbekend en sal moontlik deur die owerhede as onwettige immigrante gedeporteer word.







You must be logged in to post a comment.