Die nadoodse ondersoek in verband met die oorskot van ‘n jong man wat verlede week op ‘n plaas buite Kroonstad opgegrawe is, vind tans in Bloemfontein plaas.
Kapt. Lorraine Earl, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het dit bevestig, asook dat die identiteit van die man nog nie bekend gemaak is nie.
Sy identiteit sal bevestig word sodra sy naasbestaandes hom uitgeken het. Die gruvonds van die man se lyk is op Woensdag 20 Augustus op ‘n plaas in die Kroonstad-distrik deur die owerhede gemaak nadat ‘n wenk uit die gemeenskap hieroor ontvang is.
Hy is vermoedelik vermoor en hier begrawe. ‘n Taakspan van Bloemfontein het die leidrade opgevolg, wat hulle na die plaas gelei het.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie, en die ondersoek duur voort. Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om inligting te verskaf wat tot ‘n deurbraak kan lei.
■ In afsonderlike voorval soek die polisie van Maokeng dringend na Exodus Sehloho (34), oorspronklik van Welkom, wat sedert 10 Augustus vermis word. Dit lyk asof hy op ‘n ingewing by die sorgsentrum in Kroonstad weg is − sy versorgers het gevind dat ‘n deur oopgebreek is. Sehloho, wat verstandelik gestremd is, is laas gesien in ‘n blou denimbroek en geel top.
Bel speursersant Dikoboto Mosebi by 061 487 3089 met inligting, of die naaste polisiekantoor.




