Munisipale ineenstorting laat landbougemeenskappe aan die kortste ent trek


‘n Inisiatief deur die parlement om ‘n Cogta-kommittee as toesigmodel vir munisipaliteite in die Vrystaat aan te stel is deur Vrystaat Landbou (VL) verwelkom.

Vrystaat Landbou het in ‘n verklaring op Vrydag 1 Augustus gesê landbougemeenskappe die meeste blootgestel is aan die gevolge van munisipale ineenstorting. Volgens hulle kan sakeondernemings en selfs inwoners ander heenkome vind om die voortslepende uitdagings hok te slaan, maar dat die landbousektor ongelukkig gekoppel is aan hul geografiese ligging. Daarom is die landbousektor hoogs afhanklik van ‘n funksionerende plaaslike regering.

Gebrekkige dienslewering en infrastruktuur wat nie onderhou word nie, kniehalter die landbousektor en plaas ook hewige druk op ekonomiese lewensvatbaarheid en vererger armoede. 

Friedl von Maltitz, Vise-president van Vrystaat Landbou (VL,) sê die organisasie verwelkom die COGTA-komitee as nuwe toesigmodel vir munisipaliteite, en hoop dat dit meer druk op die munsipalteite sal plaas.    

Die parlement se aankondiging om die komitee aan te stel volg op ‘n verdoemende verslag deur die ouditeur-generaal (OG) verlede jaar. In die verslag is ernstige munisipale finansiële wanbestuur in die Vrystaat blootgelê het.

Altesaam 16 munisipaliteite met onbefondsde begrotings, meer as R4.2 miljard met ongemagtigde uitgawes, herhaalde ouditmenings met vrywaring en wydverspreide versuim om finansiële state betyds in te dien, is aan die lig gebring.

“Die ineenstorting van munisipale dienslewering begin met swak finansiële bestuur. Dit is hoog tyd dat die nasionale regering, plaaslike regering aanspreeklik hou. Munisipaliteite het te lank straffeloos gewerk en gemeenskappe vernietig sonder om gevolge te dra,” sê Von Maltitz.

Die haglike toestand van munisipale paaie, nie-funksionele brandstasies, waterbesoedeling, rioolbehandelingsprobleme, verswakkende waterinfrastruktuur en onbetaalde Eskom-rekeninge is slegs enkele van die grootste uitdagings waarmee landelike gemeenskappe te kampe het as gevolg van ‘n disfunksionele plaaslike regering.

Boereverenigings en VL bly egter daartoe verbind om aktief met hul plaaslike regering te skakel en die toesigkomitee waar moontlik te ondersteun om die groeiende munisipale krisis aan te spreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article