Die brand by die Vrede-substasie.
Die Vrede-substasie wat verlede week byna in ‘n brand vernietig is.

Vrede-substasie byna verwoes oor stukkende brandweerwa


VREDE – Terwyl brande verwoesting saai, stel die Phumelela- plaaslike munisipaliteit blykbaar nie belang om die hulp te aanvaar om sy enkele brandweerwa te laat regmaak nie.

Jeandre Kemp, VF Plus-raadslid in Vrede, sê ‘n veldbrand wat waarskynlik by die veilingskrale gestig is, het op 18 Augustus byna die substasie in die dorp verwoes. Hy sê dit is die Eskom-substasie wat krag vir plase lewer. “Die brand het reeds die dakbalke van die gebou begin brand voordat die brand geblus kon word,” vertel hy.

'n Brand by die Vrede-substasie
‘n Brand by die Vrede-substasie. Die dorp se brandweerwa is buite werking en die brand moes met ‘n bakkie en ‘n watertrok geblus word. FOTO: Verskaf

Die Phumelela-plaaslike munisipaliteit het aanvanklik slegs met ’n bakkie en ’n watertrok op die toneel gereageer. ’n Trekker-laaier-graaf (TLB) is later ontbied om pale uitmekaar te trek en te help keer dat die brand verder versprei.

Kemp sê die dorp se brandweerwa is al geruime tyd buite werking en as dit nie vir boere en ander gemeenskapslede was nie, kon die brand groot skade aangerig het.

Hy sê daar is die afgelope vier jaar al drie huise in brande beskadig en daar was ook al ‘n brand by ‘n skool op die dorp. “Ons verstaan dat die munisipaliteit nie geld het om die brandweerwa te laat regmaak nie, maar lede van die privaatsektor het aangebied om die voertuig op hul koste te herstel.

“Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe telkens moet inspring wanneer ’n munisipaliteit en distrik nie daarin slaag om hul verantwoordelikhede na te kom nie,” sê Kemp.

Versoeke is al tot op provinsiale vlak gerig om in te gryp by die ondoeltreffendheid van die plaaslike brandweer. “Boere en sakelui is al gewoond daaraan om self veldbrande te blus, maar as strukture brand, is daar groot bedreigings.”

Kemp sê omdat brandbestryding nie elke dag dieselfde vermoë vereis nie, behoort brandvoorkoming, opleiding en brandveiligheidsprogramme by skole en in gemeenskappe deel van dié benadering te wees.

“Boere, inwoners en ondernemings kan nie aanhou om die gapings van munisipale onvermoë te vul nie. Die mense wat reeds die ekonomie dra, moet minder verantwoordelikheid vir ’n mislukte staat dra, nie meer nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article