‘n Bom is verlede week in die middel van kuns- en kultuurkringe in Durbanville gelos toe dit by die maandvergadering van Subraad 7 geblyk het die Stad Kaapstad gaan nie die Durbanville-kultuurvereniging se huurooreenkoms om die Rust-en-Vrede-kunsgalery en -kleimuseum in die historiese Rust-en-Vrede-gebou in Wellingtonweg te bedryf, verleng nie.
Ook raadslede was oënskynlik uit die veld geslaan deur die stap nadat hulle vir die eerste keer daarvan te hore gekom het deur die verslag in die agenda van verlede week se vergadering.
Die verslag deur die Stad se departement gemeenskaps-, kuns- en kultuurontwikkeling (tak kuns- en kultuurontwikkeling) van die direktoraat gemeenskapsdienste en gesondheid is vir kommentaar aan Subraad 7 voorgelê.
Subraad 7 het daarop besluit om die item na ‘n latere vergadering uit te stel om meer inligting te bekom. Aangesien die subraad sedert verlede week se vergadering vir ‘n maand in reses is, sal die item eers weer in Augustus of later voor Subraad 7 dien. ‘n Interne vergadering met die departement sal ook aangevra word, is op die vergadering besluit.
Nuwe fasiliteit
In die verslag word aanbeveel dat ‘n gedeelte van Erf 680 van 5 911 m² gereserveer word vir die skep van ‘n nuwe fasiliteit vir kuns, kultuur en erfenis, wat deur die Stad se departement gemeenskaps-, kuns- en kultuurontwikkeling bestuur en in stand gehou sal word.
Luidens die verslag is die Rust-en-Vrede-gebou in die 1840’s gebou om as tronk, polisiehoofkwartier en landdroshof te dien. Dit het ‘n belangrike rol in die gemeenskap gespeel en was ook waar die eerste munisipale raadsvergaderings in 1901 plaasgevind het toe Durbanville as dorp geregistreer is.
In 1927 is die eiendom aan Robert John Meneely verkoop, ‘n eksentrieke horlosiemaker, wat die gebou in vier skakelhuise omskep het. Hy het die huise The Oaks, Ingle Nook, My Vreugd en The Retreat genoem en dit met antieke horlosies gevul.
Perseel ontruim
Ná sy afsterwe het die Durbanville-munisipaliteit die gebou in 1987 bekom en dit met verloop van tyd gerestoureer. In 1981 is die Durbanville-kultuurvereniging gestig om die perseel in ‘n kultuurfasiliteit te ontwikkel. Die gebou is in 1984 tot nasionale monument verklaar om sy argitektoniese en historiese erfenis te bewaar. Die perseel behels tans die kunsgalery, kleimuseum, verskeie studio’s waar kuns beoefen word, asook ‘n koffiewinkel vir besoekers.
Die 10 jaar-huurooreenkoms met die Durbanville-kultuurvereniging het reeds einde Januarie 2022 verstryk nadat die vorige huurooreenkoms op 1 Maart 2004 gesluit is.
Luidens die verslag het die Stad se departement gemeenskaps-, kuns- en kultuurontwikkeling se tak kuns- en kultuurontwikkeling gedurende die hersaansoekproses aangedui dat hy self die perseel benodig en dat die huurooreenkoms met die Durbanville-kultuurvereniging nie hernu moet word nie.
Indien dit goedgekeur word, sal die Durbanville-kultuurvereniging kennis gegee word om die perseel teen einde November vanjaar te ontruim, lui die verslag.
Nasionale aansien
Rust-en-Vrede-kunsgalery en -kleimuseum is nie net vernoem na dié historiese geboue nie, maar word al byna 40 jaar in een asem genoem. Die Rust-en-Vrede-kunsgalery vier aanstaande jaar sy 40ste bestaansjaar.
Die galery geniet nasionale aansien vanweë die tweejaarlikse Portrait Awards, wat vanjaar weer en sedert 2013 aangebied word, en kunstenaars van reg oor die land lok, asook ander kunskompetisies en -uitstallings – onder meer die South African Clay Awards, wat sedert verlede jaar elke twee jaar aangebied word, en ‘n Junior Portrait Awards.
Volgens sy webblad stal die galery die werk uit van beide opkomende kunstenaars en gevestigde meesters om diverse kunstige stemme te vier. Uitstallings kan gratis besoek word.
Die kleimuseum is geaffilieer by die International Academy of Ceramics (IAC) met die United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization as vennoot.
Bespiegeling oor onderverdeling
Yolanda Snyders, besigheidsbestuurder van die Durbanville-kultuurvereniging, is die organisasie in die vierde kwartaal van verlede jaar deur die Stad se kuns- en kultuurdepartement persoonlik in kennis gestel dat hulle beplan om ‘n advertensie te plaas sodat ander organisasies ook ‘n voorlegging kan indien om as operateur van die Rust-en-Vrede-sentrum te dien.
“Ons het ons volledige voorlegging op 27 Maart voor die sperdatum ingedien. Ons is nie bewus van wat verlede Woensdag op die subraadvergadering bespreek is nie, maar het daardie aand verskeie WhatsApp-boodskappe ontvang met bespiegeling oor moontlike beplanning om die Rust-en-Vrede-grond te onderverdeel vir ontwikkeling,” sê sy.
Volgens haar het hulle reeds in Januarie 2021, ‘n jaar voor die huurooreenkoms in Januarie 2022 sou verval, die proses begin om dit te hernu.
“Sedertdien is die huurooreenkoms op ‘n maand-tot-maand basis. Die Durbanville-kultuurvereniging huur die volledige perseel reeds vanaf 1986 van die Stad,” sê sy.
Nie hernu nie
By navraag deur TygerBurger aan die Stad het James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, bevestig dat die Stad nie sy huurooreenkoms met die Rust-en-Vrede-kunsgalery en -kleimuseum wil hernu nie omdat die Stad se departement gemeenskaps-, kuns- en kultuurontwikkeling (tak kuns- en kultuurontwikkeling) die perseel self wil gebruik.
“Geen diensverskaffer is nog aangewys nie. Die Stad het geadverteer vir voorstelle en is tans besig met ‘n proses van seleksie en aanstelling. Die Stad beoog om ‘n operateur voor die einde van die jaar aan te stel.
“Rust-en-Vrede is ‘n kreatiewe ruimte wat belangrik is vir Kaapstad se kuns- en kultuur-ekosisteem. Aktiwiteite by die perseel moet kuns-, kultuur- en erfenisverwant wees en ‘n diverse reeks van dienste en geleenthede behels wat die gemeenskap ophef en kreatiwiteit inspireer. Dit moet plaaslike kunstenaars ondersteun en geleenthede vir ekonomiese en maatskapllike ontwikkeling bied,” sê hy.