Voortrekker wys ander ‘n negende keer hoe dit gedoen word met interhoër-atletiek

Liesa Kruger, ‘n o.16-atleet aan die Hoërskool Voortrekker, op die baan op die Vrystaat-interhoër-atletiekkampioenskapsbyeenkoms wat die naweek van 7 Maart in Bloemfontein plaasgevind het. Sy het 'n eerste plek in die 800m, 1 500m en aflos behaal.
Liesa Kruger, ‘n o.16-atleet aan die Hoërskool Voortrekker, op die baan op die Vrystaat-interhoër-atletiekkampioenskapsbyeenkoms wat die naweek van 7 Maart in Bloemfontein plaasgevind het. Sy het ‘n eerste plek in die 800m, 1 500m en aflos behaal. Foto: Verskaf

Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is die afgelope naweek nogmaals as die algehele wenner van die Vrystaat-interhoër-atletiekkampioenskapsbyeenkoms aangewys.

Die byeenkoms is op 6 en 7 Maart in Bloemfontein aangebied, waar atlete van bykans 200 skole saamgetrek het.

Voortrekker se atlete het van die begin af hul stempel afgedruk en gereeld op die podium verskyn. Die skool het ’n indrukwekkende 69 medaljes ingeoes: 33 goud, 23 silwer en 13 brons.

Al vyf die Voortrekker-atlete het goud in die 800 m gewen; vier het goud in die 1 500 m en een silwer.
Al vyf dié Voortrekker-atlete het goud in die 800m verower, terwyl vier ook goud in die 1 500m behaal het en een ’n silwermedalje losgehardloop het. Dit is die tweede jaar agtereenvolgens dat die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem in al die 800m-nommers vir meisies wen. Van links is: Elné Hugo (5 goue medaljes), Marizaan Swanepoel (2 goud en 1  silwer), Carla Britz (1 goud en 1 silwer), Liza Kruger (3 goue medaljes) en Anke Gunter (2 goue medaljes). Die atlete word deur Casper de Villiers afgerig. FOTO: Verskaf

Voortrekker spog met nege atlete wat onder die Vrystaat se 50 topatlete tel. Onder hulle is Ruhan Cilliers, wat in die o.15-ouderdomsgroep deelneem. Hy is tweede op dié lys. Sy tweelingbroer, Dehan, is ook onder die top 50 en het op die byeenkoms die rekord in die 3 000m verbeter. Die twee het onder die vele atlete van Voortrekker uitgestaan wat hul staal getoon het. 

Voortrekker se aflosspanne het puik gevaar en die skare op hul voete gehad. Die spanne het vier goue en vier silwermedaljes verwerf, met slegs een van die nege aflosspanne wat nie ’n medalje kon wen nie.

Boonop is dit die tweede jaar agtereenvolgens dat Voortrekker die wenners in elkeen van die 800m-nommers vir meisies op dié byeenkoms oplewer.

Die skool het deur die loop van die afgelope atletiekseisoen sy oorheersing gewys deur die Graanveld- en Oos-Vrystaat-byeenkoms te wen.

Ruhan Cilliers, tweede in die Vrystaat se top-50, en sy tweelingbroer Dehan (regs), wat die 3 000 m-rekord verbeter het.
Ruhan Cilliers (links) en sy tweelingbroer, Dehan, was onder die atlete van die Hoërskool Voortrekker wat op die Vrystaat-interhoër-kampioenskapsbyeenkoms presteer het. Die twee word deur hul pa, Ebarnie, afgerig. FOTO: Verskaf

Volgens Andi Wolmarans, Voortrekker se atletiekhoof en afrigter, het die atlete se toewyding en liefde vir die sport duidelik vrugte afgewerp. Hy gee erkenning aan elke afrigter en atleet vir hul kundigheid, bydrae en harde werk wat die prestasie moontlik gemaak het.

Gys Coetzee, skoolhoof, het gesê die prestasie is die produk van volgehoue samewerking en harde werk.

“Voortrekker sou nie hierdie uitnemende prestasies vir die negende jaar agtereenvolgens kon behaal sonder die ongelooflike toewyding van ons mense nie. Ons is trots op elke atleet, afrigter, ouer en personeellid wat ’n bydrae gelewer het. Julle harde werk, toewyding en ondersteuning het hierdie sukses moontlik gemaak,” sê Coetzee.

LEES OOK: Dominant Voortrekker cruise to 27-0 victory over Louis Botha

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article