SWARTLAND – Die vonnisverrigtinge van die pa wat na bewering sy drie biologiese dogters seksueel voorberei en verkrag het, is Maandag in die Malmesbury-streekshof uitgestel.
Die staat en verdediging het op 20 April hul versagtende en verswarende argumente gelewer, sê Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag. Die drie slagoffers het die hof deur van middel van ‘n impakverslag toegespreek waartydens die langtermyn- emosionele en sielkundige gevolge en skade weens die beskuldigde (51) se dade aangehoor is. Die beskuldigde het op 17 November 2025 op al drie aanklagte van verkragting skuld beken. Al drie sy dogters was tydens die gebeure minderjarig.
LEES OOK: Verkragter-pa se saak ná vyf jaar steeds nie afgehandel
Die verslae sluit verder die uitwerking in wat die beskuldigde se dade op hul verhoudings het, asook hoe hulle nie maklik kan vertrou nie, met getuienis oor hul woede en geestelike welstand. Elkeen het verduidelik hoe die seksuele misdrywe, wat oor ‘n tydperk van 12 jaar (2008-2020) plaasgevind het, hul lewens tot in volwassenheid gevorm het. Volgens ‘n familiebron, wat aan die Gazette bekend is, het al drie susters dapper getuig om die uitwerking van die seksuele misdrywe op hul kinder- en volwasse lewens te beskryf. Elkeen is volgens die pleitverduideliking tussen die ouderdom van vier en ses jaar tot en met 12-jarige ouderdom seksueel voorberei en verkrag.
Die seksuele misdrywe het onder meer in Malmesbury en Gansbaai plaasgevind.
Die slagoffers dring aan op tronkstraf, hoewel steeds gevrees word die beskuldigde kan onder korrektiewe toesig vrygelaat word of ‘n straf in die vorm van gemeenskapsdiens opgelê word. Die staat het vir direkte gevangenisstraf gepleit, voeg Ntabazalila by.
Die beskuldigde het by monde van sy prokureur berou getoon, sy dogters om vergifnis gevra, maar herhaal hoe hy self as kind gemolesteer is, intensiewe terapie ondergaan en niemand meer in sy lewe oorhet nie.
Die familie na aan die slagoffers het kort ná die verrigtinge gesê hulle hou nou die asem op vir die gewenste uitkoms.
Die vonnisuitspraak sal na verwagting op 5 Junie deur regter Phakama Madinda gedoen word.



