Weslander

Vlootoffisier skuldig bevind wat vrou in Saldanha doodry; vra ‘verskoning’

Keamogetswe Khunofu (29)
Keamogetswe Khunofu (29). FOTO: Alida Buckle

SALDANHA – “Ek het net ‘n slag gehoor, gedink ek het die rand van die sypaadjie raakgekry en remme aangeslaan.”

Só het Keamogetswe Khunofu (29), ‘n junior vlootoffisier van Simonstad, op Vrydag 8 Augustus gedurende die aanhoor van redes tot strafversagting getuig.

Landdros Alfred Isaacs het Khunofu minute vantevore in die Vredenburg-landdroshof skuldig bevind op aanklag van strafbare manslag.

Khunofu het Michelle de Clerck (37) op 9 November 2021 voor die OK Minimark in Saldanha se hoofstraat doodgery. De Clerck het vleis en brood by die winkel gaan koop omdat hulle weens beurtkrag besluit het om te braai.

Landdros Isaacs het Khunofu ná die skuldigbevinding aangespoor om die familie om verskoning te vra, wat hy wel gedoen het.

“Dit was ‘n traumatiese gebeurtenis, nie net vir haar familie nie, maar vir my ook. Ek het nooit gedink dat ek myself in só ‘n situasie sou bevind nie.”

Keamogetswe Khunofu (29) by die Vredenburg-landdroshof. Foto: Alida Buckle
Keamogetswe Khunofu (29) by die Vredenburg-streekshof. Foto: Alida Buckle

De Clerck se ouers, André en Elmarie de Clerck, bekendes in perdekringe in die Weskus en Wes-Kaap, was erg emosioneel tydens die uitspraak. Hulle is bygestaan deur hul dogters, Annelle Traut (34) en Chantelle le Roux (43), De Clerck se oudste suster van Middelburg, Mpumalanga.

Khunofu het nie in die hofsaak getuig nie, maar ter strafversagting verduidelik hoe die ongeluk gebeur het. Hy het ook gesê hy help om ‘n tweejarige dogter te onderhou asook sy 49-jarige ma en 20-jarige broer.

Klem geplaas op stawende getuienis

Landdros Isaacs het in sy uitspraak klem geplaas op stawende getuienis soos die van die polisie én ander wat Khunofu agter die stuur van die Volkswagen Polo gesien sit het en ander wat hom met sy hande op sy kop gesien staan het toe hy hoor dat De Clerck dood is.

Khunofu, wat twee maande ná De Clerck se dood toegelaat is om te gradueer, het aanvanklik erken dat hy bestuur het, maar dit later teruggetrek.

Tydens die uitspraak is ook genoem dat De Clerck se regterbeen gedeeltelik in die ongeluk afgeruk is. Sy is ‘n ent saam met die kar gesleep voordat dit sowat 66m van waar dit haar aanvanklik getref het tot stilstand gekom het.

Landdros Isaacs het ‘n parallel getrek met die bloedalkoholvlakke van Khunofu én De Clerck wat matige dronkenskap getoon het, maar volgens verskillende ooggetuies kon albei “steeds normaal loop”. Hy het wel daarna verwys dat Khunofu se bloedalkoholvlak eers drie uur ná die ongeluk geneem is.

Verskillende ooggetuies het gesien hoe Khunofu, op daardie tydstip nog ‘n student aan die Universiteit Stellenbosch se krygskunde-fakulteit by die SAS Saldanha-vlootbasis, en ‘n medestudent in twee voertuie teen mekaar gejaag het. Hulle het glo voor die ongeluk en ná ‘n eksamen, mengeldrankies by ‘n restaurant in Paternoster gedrink.

Die passasier wat saam met Khunofu in die motor was, kon nog nooit opgespoor word nie. Die landdros het gesê dit is jammer dat Khunofu, as ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, nie met die hof saamgewerk het sodat dié getuie opgespoor kon word nie. Dié medestudent wat in ‘n ander voertuig teen Khunofu gejaag het, het glo dié passasier van die toneel verwyder.

Die feit dat Khunofu nie tydens die verloop van die hofsaak getuig het nie, het volgens die landdros die staat se saak in isolasie geplaas as die enigste getuienis.

“As jy nie vandag vir die familie om verskoning gevra het nie, het ek jou tronk toe gestuur.”

Landdros Alfred Isaacs

Die hof is tot Vrydag 22 Augustus vir vonnisoplegging uitgestel. Khunofu gaan na verwagting korrektiewe toesig kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article