Goudveld-Hoërskool en Hoërskool Trio het op 18 April by Goudveld-Hoërskool, Welkom, as deel van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks 2026 kragte gemeet tydens ‘n sportdag met rugby, hokkie en netbal.
Die eerstespan-rugbywedstryd het 38 – 21 in Trio se guns geëindig. Hoewel die uitslae nie oral in Goudveld se guns was nie, het die spelers ware karakter en deursettingsvermoë getoon. Die eerstespan het besonder hard geveg en tot die laaste minuut meegeding in ‘n hoëtempo wedstryd. Goudveld het egter goeie aanvallende fases gewys en met trots teruggeveg.
Vir Goudveld het Kamma Moloke twee drieë gedruk en Janco van Wyk een drie. Moloke het drie doelskoppe oor die pale gestuur.
Caleb Butler (o.19A) van Trio is as speler van die wedstryd aangewys, met ‘n indrukwekkende vertoning. Die kragtige agsteman het met sy stormlopies en fisiese spel groot druk geplaas en is beloon met twee drieë.
Die hokkiewedstryde het groot opwinding gebring en die toeskouers op die punte van hulle stoele gehou.
Trio het drie wedstryde gewen, terwyl twee wedstryde gelykop geëindig het.

Een van die hoogtepunte was die o.14A-meisies se spannende gelykopstryd. Mialé Richter, van Goudveld, is as speler van die wedstryd aangewys vir haar sterk verdedigende spel en leierskap op die veld.
Die grootste skaretrekker van die dag, was die eerste span meisies se wedstryd wat in ‘n dramatiese 3–3 gelykopuitslag geëindig het.
Albei spanne het aanvallende hokkie gespeel en die wedstryd kon enige kant toe gegaan het. Kaylie Steyl van Trio is as speler van die wedstryd aangewys nadat sy al drie doele vir haar span aangeteken het.
LEES OOK: Sportmangees seevier tydens Wesgrow
Goudveld se netbalspanne het ook uitstekende rekenskap van hulself gegee en ‘n sterk algehele vertoning gelewer, met 7 uit die 12 spanne wat hulle wedstryde gewen het.
Die o.16A-span staan beslis uit as ‘n span om dop te hou ná hul oortuigende 27 – 9 oorwinning. Spelers wat besonders uitgeblink het, sluit in Shynette Odendaal (hoofdoel), wat met akkuraatheid en selfvertroue afgerond het, asook Bokamoso Semela (senter), wat die spel uitstekend gelees het en belangrike balle onderskep het.
Die eerstespan het ook ‘n sterk vertoning gelewer met ‘n 33 – 23 oorwinning. Annabelle Rheeder (hoofverdediger) is aangewys as speler van die wedstryd vir haar dominante verdediging en impak op die spel.
Michelle van der Westhuizen het as senter ‘n uitstekende wedstryd gehad en ‘n sleutelrol gespeel in die span se vloeiende spel en oorgange.
Goudveld kan trots wees op die spanne se harde werk, dissipline en samewerking op die baan. Hierdie uitslae is ‘n bewys van die spelers se toewyding en groei deur die seisoen.




You must be logged in to post a comment.