Ruzé Lombaard (15) van Virginia bou nuwe wêrelde met woorde terwyl baie van haar portuurgroep die sosiale media verkies.
Haar liefde vir lees het binne enkele jare ontwikkel tot ‘n nuwe werklikheid: Ruzé is nou ‘n gepubliseerde skrywer.
Sy het al drie boeke geskryf, waarvan die twee nuutstes binne enkele weke digitaal gepubliseer is.

Ruzé se debuutboek, Maanplante, is in gedrukte formaat beskikbaar. Op 28 September vanjaar het sy haar tweede boek, The Cursed Town, digitaal gepubliseer. Haar derde boek, Beneath the Waves, het op 11 Oktober gevolg.
The Cursed Town handel oor spanning, donker geheime en gevaar. Beneath the Waves is ‘n fantasieverhaal met geheimsinnige wesens, antieke legendes en onderwateravonture.
The Cursed Town en Beneath the Waves is digitaal beskikbaar op Kobo Books en Kindle Store. Gedrukte uitgawes sal later verskyn.
Ruzé, ‘n leerder aan die Hoërskool Henties Cilliers, is in Klerksdorp gebore en woon saam met haar gesin in Virginia. Haar passie vir stories het in gr. 6 posgevat toe sy boeke van die gewilde Afrikaanse skrywers Jaco Jacobs en Fanie Viljoen verslind het.
Ruzé het besef dat sy haar eie stories wil vertel.
“Skryf gee my die geleentheid om nuwe wêrelde te skep, mense se verbeelding aan te wakker en stories te vertel wat nog lank onthou sal word,” vertel sy.




You must be logged in to post a comment.