BLOEMFONTEIN – Lag, huil en saamkuier is om die draai met die Vrystaat Kunstefees wat volgende week begin.
Daar is reeds Maandag 6 Julie ‘n smakie van dit wat kom met onder meer Evita@90. Die immergewilde Tannie Evita Bezuidenhout word 90 en sê ons moet die verlede onthou om die toekoms te waardeer.
Dié eenvrouvertoning is maar net die begin van ‘n week se drama, kuns en musiek.

Dan is daar kunstenaars wat deel geword het van die Vrystaat Kunstefees se hartklop. Dit is stemme waarna feesgangers hunker.
Drie van die Bestes met Danie Niehaus, Mathys Roets en Germandt Geldenhuys bring op vanjaar se fees tydlose gunstelinge en bekende treffers saam met nuwe klanke na die verhoog.
Geldenhuys sê produksies soos hierdie is vir mense ’n manier om aangesig tot aangesig met ander te verkeer. “In ’n tyd waar so enorme deel van ons lewens uit skerms en digitale toestelle bestaan, hunker mense terug na persoonlike verbintenis.

“Om na ’n musiekvertoning te gaan kyk, is een van die beste maniere om daardie gevoel te kry.”
Hy sê hulle keer terug na die Vrystaat omdat Bloemfonteinse gehore nou al in die verlede bewys het dat hulle musiek waardeer, gees kan vang en hulself in die musiek kan inleef. “Waarvoor meer kan ons vra?”
Niehaus beklemtoon dit en sê hulle hoop altyd wanneer hulle uit hulle vertonings stap, mense ligter sal voel. “Ons hoop ons neem die gehoor op ’n musikale reis, om terug te dink, om te onthou en te verlang, te lag en te ontspan en weggevoer te word.”
“So wanneer mense uitstap, hoop ons dat hulle dit met ’n huppel in hulle stap sal doen en met nuwe oë na die lewe om hulle sal kyk.”
Op sy beurt sê Roets, hulle drie hou daarvan om te sing. Mense weet dit en geniet die vertonings meer. Roets hou baie van die nostalgiese deel van die program omdat dit mense terug neem na die eerste keer wat hulle die musiek gehoor het, dit bring ’n eerlikheid na vore.
“Ek is maar ’n patriotiese Vrystater en dit is altyd lekker om in Bloemfontein op te tree. Die mense laat ons altyd baie tuis voel. Vir hierdie mense sal ons altyd terug kom.”

Lees ook: ‘Ouma’ se ou koeie op Vrystaat Kunstefees gaan jou laat giggel.
Nog ‘n hoogtepunt op vanjaar se program is die vertoning van bekroonde kabaretsanger en aktrise Elzabé Zietsman.
Zietsman sê wanneer sy Vrystaat Kunstefees toe kom, voel dit vir haar asof sy by die huis is.
“Ek het van die beste tye van my lewe hier ervaar. Die Vrystaat het ’n besonderse plek in my hart.”
Sy en haar vennoot Johann Slabbert het vir Bibi Slippers gevra om die teks te skryf.
“Ek is ongelooflik bly daaroor. Sy het ’n werklik uitsonderlike teks geskryf. Die produksie het ook drie benoemings by die KKNK ontvang, onder meer vir Bibi se bydrae tot die teks.”
As mense uit die teater stap wil Zietsman hê hulle moet weet daar is altyd hoop.
“Hoop hoef nie noodwendig blink en rooskleurig te wees nie. Soms lê dit net onder die oppervlak, onder die stoflaag, en jy moet net ’n klein bietjie krap om dit weer raak te sien.”
Lees ook: Aangrypende toneelstuk oortref verwagtinge.
Die Hoofverhoog op die fees waar kunstenaars soos Appel, Kurt Darren & Elandré, Eloff, Droomsindroom en Bernice West sowel as Rooksein en Zaan Sonnekus gaan optree, gaan ‘n groot trekpleister wees. Die vertonings is ingesluit by die toegangsprys van die dag- of weekkaartjie
Besoek die webwerf vrystaatkunstefees.co.za vir meer inligting oor vanjaar se fees wat amptelik van 7 to 11 Julie duur. Die fees word oudergewoonte op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat aangebied met vertonings in onder meer die Wynand Mouton-teater, die Scaena-teater, die Albert Wessels Auditorium, die Kopanong-teater, die Odeion en vele meer.



You must be logged in to post a comment.