Namate ons ouer word, is die meeste mense geneig om, gerieflikheidshalwe, sekere dinge te vergeet.
En dit is gewoonlik die goed wat ons nie wíl onthou nie.
En dié wat ons wíl onthou, kry mos mettertyd allerhande “versierinkies” by.
Ouma en die ou koeie met Margit Meyer-Rödenbeck het op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vroeër vanjaar ‘n Kanna-benoeming vir beste komedie gekry.
Dit is ‘n komedie-kabaret wat jou een oomblik sal laat skaterlag en die volgende saggies laat snak na jou asem, want jy kan jouself dalk net herken.

Jy weet mos hoe dinge is.
‘n Halwe waarheid in die 1950’s word ‘n voldonge feit 50 jaar later. ‘n Wolhaarstorie word ge-“blow-dry” tot ‘n manjifieke “beehive”, en ‘n besope “one night stand” verander jare later in ‘n pragtige kortstondige romanse.
Maar daar skort nog niks met Ouma se geheue nie, en sy onthou – nie net haar eie stories nie. Ook dié van die “vromes” onder ons wat hul ou koeie baie eerder diep in die sloot sou wou los.
Wat Ouma wel vergeet het, is hoe om doekies om te draai.
Van Ouma se debuut in Ouma is op pad skryf ‘n gehoorlid: “Margit Meyer-Rödenbeck neem jou op ‘n super humoristiese en verfrissende wyse op reis deur ‘n veranderende wêreld. Jy huil soos jy lag, terwyl ernstige waarhede jou lag-lag tref. Uitstekend!”
Jurgen Human het die teks en musiek geskryf en behartig die regie, terwyl Coenraad Rall die klavierverwerkings gedoen het.
Die stuk is nie geskik vir kinders jonger as 14 jaar nie.
Ouma en die ou koeie is met die Vrystaat Kunstefees op die volgende dae in die OFM Odeion: 7 Julie om 09:00, 8 Julie om 20:00, 10 Julie om 14:00 en 11 Julie om 15:30.
Kaartjies vir die vertoning kan gekoop word op webtickets.co.za.
Tien lesers staan die kans om elk dubbel-kaartjies vir Ouma en die ou koeie te wen. Stuur ‘n Whats App met die woord Ouma, jou naam en e-posadres per Whats App na 083 709 0809. Die eerste tien mense wat ‘n Whats App stuur, sal kaartjies vir die vertonings ontvang!!! Die kompetisie sluit vandag (Donderdag 2 Julie) om 17:00.
.







You must be logged in to post a comment.