WELKOM – Die persepsie dat rolbal ‘n oumens-sport is, word uitgedaag wanneer Welkom van 24 tot 27 September die o.35-Inter Distrikte-toernooi aanbied.
Bykans 200 spelers van oor Suid-Afrika heen sal oor vier dae van intense kompetisie aan die toernooi deelneem. Welkom- en Rovers-rolbalklub sal as speelterreine dien, met Welkom-klub as hoofkwartier.
Die toernooi werk volgens ‘n stelsel waar elke streek een tot vier spanne het. Elke span bestaan uit vier spelers, wat uit mans en/of vroue kan bestaan. Dit maak rolbal die enigste sport wat gelyk tussen mans en vroue gespeel kan word.
Noord-Vrystaat het die afgelope twee jaar reeds tweede in die land gekom met die o.25-spanne en het uitstekende spelers. Van hierdie spelers neem ook aan die o.35-kampioenskappe deel.
Een van die spelers in die Noord-Vrystaat A-span is Andrian Bookless, die nommer een speler in Suid-Afrika onder 30. Hy is uitgenooi na die Hong Kong Internasionale enkelskampioenskappe wat in November en Desember plaasvind.
Soos enige spansport is elke speler se bydrae belangrik in rolbal.
Die span wie se balle die naaste aan die wit bal lê, tel punte op tot die naaste bal van die teenstanders.
Hoe meer balle die span nader het as hul teenstanders se naaste bal, hoe meer punte op die telbord.
Meetkunde, wiskunde, aardrykskunde en oefening moet ingesit word om dit reg te kry.




