Ilse en Kurt Olivier verlaat Welkom na 82 jaar se gesamentlike diens in die plaaslike onderwys. Hulle het diep spore getrap. FOTO: Verskaf

Kurt Olivier (62) en sy vrou, Ilse (60), tree binnekort af en sluit daarmee ‘n gesamentlike 82 jaar lange loopbaan in die onderwys af. Die egpaar, wat reeds 36 jaar getroud is, verlaat Welkom op 22 Mei om hulle in Hartenbos te vestig.

Kurt was van 2019 tot 2026 die skoolhoof van Orion Vaardigheidskool. Sy loopbaan in die onderwys het in 1984 begin toe hy by St Helena Volkskool aangestel is.

Hy is in 1989 tot departementshoof bevorder en in 1998 tot adjunkhoof by Bronville Primêre Skool. In 2002 het hy as adjunkhoof by Orion Vaardigheidskool begin werk, waarna hy in 2011 as hoof van Reitz Park Primary School aangestel is. Hy het dié pos tot einde 2018 beklee.

Kurt het sy onderwysdiploma aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege verwerf en sy BA-, BEd- en meestersgraad as deeltydse student voltooi.

In 2004 is hy met die Dekaansmedalje bekroon as beste BEd-student aan die Universiteit van die Vrystaat. In 2015 het hy die Lejweleputswa-distrik in Bloemfontein verteenwoordig in die kategorie vir leierskap in primêre skole.

“My sukses by al die skole kan toegeskryf word aan personeel wat my rug sterk gemaak het. Spesiale onderwys lê my na aan die hart en dit is die rede waarom ek ná agt jaar in hoofstroomonderwys teruggekeer het. Dit was lekker om oud-leerlinge in die dorp raak te loop wat hul dank betuig vir my voorbeeld en wat my onderrig vir hulle beteken het,” sê Kurt.

“Welkom het ons groot vreugde gegee en ons sal altyd dankbaar daarvoor wees. Al ons suksesse en goeie jare is aan die Here te danke,” sê die egpaar.

Ilse (Roets) het 40 jaar diens in die onderwys. Sy het in 1986 by St Helena Volkskool begin werk en het in 1991 by Japie Smit Spesiale Skool, nou Orion Vaardigheidskool, aangesluit.

Sy is in 2016 tot departementshoof bevorder en in 2021 tot adjunkhoof. Sy is al meer as 35 jaar aan Orion verbonde.

Die skool het in ‘n verklaring gesê die Oliviers laat ‘n groot leemte. “Hulle was altyd daar om te ondersteun en by te staan.

“Die koshuispersoneel, onderwyspersoneel en nie-onderwyspersoneel het baie by hulle geleer. Onderwys was vir hulle ‘n passie en nie net ‘n werk nie. Ons is dankbaar vir hul bydrae, hul leiding en hul omgee.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article