Dringende antwoorde oor bewerings van onreëlmatighede rakende die aankoop van twee 12 500ℓ-septiese-suigtenkwaens (“honey suckers”) deur die Matjhabeng-munisipaliteit word geëis.

Die munisipaliteit bedien Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia en Welkom.

‘n Verklaring van die VF Plus sê luidens mediaberigte is die twee tenkwaens teen ‘n koste van R20 miljoen aangekoop, terwyl die gekwoteerde waarde R5,4 miljoen elk beloop.

Die twee tenkwaens teen ‘n koste van R20 miljoen aangekoop – Stephan Pienaar VF Pus-raadslid

Dit is nie die eerste keer dat Matjhabeng in die kollig is oor twyfelagtige voertuig-aankope nie.

In 2021 is daar ook berig oor voertuie wat onder die dekmantel van nuwe aankope aangeskaf is; dit het egter later geblyk dat dit tweedehandse en onbruikbare voertuie is, wat vandag in werkswinkels staan en stof vergaar.

Die VF Plus het versoek dat die munisipaliteit se munisipale openbare rekeninge-komitee (MPAC) die mees onlangse aangeleentheid dringend ondersoek, insluitend die aankoopprys, tenderproses, verskaffer, voertuigspesifikasies en of die voertuie wel operasioneel is, sê Stephan Pienaar, VF Plus-raadslid in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit.

Pienaar sê Matjhabeng is ongelukkig bekend daarvoor dat dié munisipaliteit gereeld in die nuus is weens korrupsie en wanbestuur.

“Hierdie munisipaliteit is nie net besig om diens-lewering te vernietig nie, maar ook om die basiese waardigheid van alle inwoners hier ernstig te ondermyn,” meen Pienaar.

“Ons sal nie toelaat dat hierdie bewerings onder die mat ingevee word nie.

“Inwoners van Matjhabeng verdien werkende dienste en nie nog vrae oor waar hul geld heen is nie,” vat Pienaar dit saam.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article