Terwyl duisende inwoners van Ventersburg en Mmamahabane al vir meer as drie maande met onbetroubare watertoevoer sukkel, verkies die regering van die dag, spesifiek die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit om eerder R55 miljoen aan ‘n sportstadion in Thabong te bestee.
Inwoners en ondernemings in die hoër dele van Ventersburg gaan sedert 11 Januarie gebuk onder watertekorte. ‘n Versterkerpomp wat die gebiede moet bedien, is al vyf jaar buite werking terwyl dit teen R120 000 herstel kan word.
Al drie boorgate is buite werking met twee wat gevandaliseer is en een wat weens swak vakmanskap ineengestort het. Daar is ook geen noodwatervoorsiening of watertenks om die krisis te verlig nie. Die situasie het ‘n hoogtepunt bereik oor Paasnaweek, toe vulstasies en ondernemings langs die N1 nie basiese dienste kon lewer nie. Dit het direk tot groot inkomsteverliese gelei.
Nogtans het die raad die VF Plus se voorstel verwerp om die R55 miljoen wat vir ‘n stadion begroot is, eerder te gebruik om die waterkrisis op te los. Die burgemeester, Thanduxolo Khalipha, het onderneem om te sorg dat die munisipaliteit saam met Vaal Sentraal Water na oplossings sal kyk. Manie Pretorius, VF Plus-raadslid in Matjhabeng sê die ANC se keuse om ‘n stadion bo water te prioritiseer, wys dat sy prioriteite nie by die inwoners lê nie.
“Water is nie ‘n luukse nie, maar ‘n basiese mensereg. Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat die krisis opgelos is.”





