MATJHABENG – Die rioolkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit het in ‘n ernstige gesondheidskrisis ontaard. Riool vloei in natuurlike hulpbronne, strate en inwoners se eiendomme en veroorsaak siekte-uitbrekings.
Daar was die afgelope twee weke gevalle waar jong kinders vermoedelik as gevolg hiervan siek geword het. In een geval het vier patogene voorgekom: Rotavirus A, Campylobacter, EAEC (E. coli) en Cryptosporidium. “Die teenwoordigheid van hierdie patogene dui waarskynlik op besoedelde water en ‘n ernstige gesondheidsrisiko,” sê Manie Pretorius, VF Plus-raadslid in Matjhabeng.
Hy sê die munisipaliteit se rioolinfrastruktuur is vir jare nie in stand gehou nie en inwoners word aan menslike afval wat vrylik vloei, blootgestel.
Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die munisipaliteit dringende stappe geëis om die verdere uitbreking van siektes te voorkom.
Die menseregtekommissie (MRK) het in sy 2024-verslag oor die stand van plaaslike regering in die Vrystaat bevind die munisipaliteit tree in stryd met die Grondwet en omgewingswetgewing op omdat die rioolprobleme nie aangespreek word nie.
Die VF Plus sê dit is tyd vir optrede teen munisipale amptenare wat bydra tot die skending van grondwetlike regte, soos die reg op ‘n skoon en veilige omgewing.
ALSO READ:Afriforum in Welkom tree in



