BRITSTOWN – Vier passasiers wat in ‘n Intercity-bus onderweg was, is oorlede nadat die bus omgeslaan het. Agt passasiers het ernstige beserings opgedoen, terwyl 30 ander gering beseer is.
Volgens kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap, het die ongeluk omstreeks 05:20 op Donderdag 31 Julie op die N12 tussen Britstown en Victoria-Wes plaasgevind.
Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die busbestuurder beheer oor die voertuig verloor het, wat by ‘n brug omgeslaan het. Die bus het op daardie tydstip 42 passasiers vervoer.
Vier volwassenes, twee mans en twee vroue, is op die toneel dood verklaar. ‘n Volwasse man, ses volwasse vroue en ‘n baba het ernstige beserings opgedoen.
‘n Tweede Intercity-bus is gestuur om die passasiers, wat hul reis kon voortsit, te vervoer.
Ehlers sê die polisie in Britstown ondersoek ‘n saak van strafbare manslag, asook die oorsaak van die ongeluk.





