In ‘n wêreld waar aanlyn- raad en televisieprogramme oor troeteldiergedrag oor- vloedig is, is dit maklik om die verkeerde inligting as feit te aanvaar.
Wanneer dit by honde kom, kan mites hul gedrag beïnvloed en die verhouding tussen mens en dier versuur.
Hier volg vier algemene wanopvattings oor honde:
Mite 1: “Honde weet wanneer hulle stout was, kyk net hoe skuldig lyk hulle.”
Baie honde-eienaars glo dat hul hond skuldig lyk ná ‘n oortreding, soos om die asblik om te keer.
Dié “skuldige kyk” – met afgewende oë, lae kop en stywe lyf – word dikwels verkeerdelik geïnterpreteer.
Feit: Wetenskaplike studies
toon dat hierdie gedrag ‘n reaksie is op jóú liggaamstaal en stemtoon, nie ‘n bewustheid van verkeerde gedrag nie. Die hond reageer op jou woede of teleurstelling.
Gevolg: Wanneer eienaars dié mite glo, kan hulle dalk die hond straf sonder dat die dier die rede daarvoor verstaan.
Dit lei tot angs, verwarring en ‘n gebroke vertrouensverhouding, en keer nie noodwendig ongewenste gedrag nie.
Mite 2: “Jy moet jou hond fisiek straf sodat hy weet jy’s die baas.”
Sommige mense glo dat jy ‘n hond moet dissiplineer deur hom te slaan of hard te skree.
Feit: Hierdie benadering is ondoeltreffend en skadelik, want honde leer nie deur vrees nie, maar deur assosiasie en herhaling. Positiewe versterking werk beter om gewenste gedrag aan te leer.
Gevolg: Fisieke straf maak ‘n hond onseker, bang of aggressief. Dit ondermyn die band tussen hond en eienaar en kan selfs gevaarlike gedrag ontlok.
Mite 3: “Honde wat grom, is gevaarlik en moet stilgemaak word.”
‘n Grommende hond word dikwels as aggressief beskou – iets wat gestop moet word of straf verdien.
Feit: Grom is deel van ‘n hond se kommunikasie. Dit is ‘n waarskuwing dat hy ongemaklik voel, bang is of ruimte nodig het. As jy hom straf omdat hy grom, kan jy dié waarskuwing onderdruk sonder om die onderliggende rede aan te raak.
Gevolg: ‘n Hond wat geleer het hy mag nie grom nie, sal dalk oorgaan tot byt sonder waarskuwing. Dit is gevaarlik vir almal en skep ‘n onveilige huishouding.
Los die oorsaak van die ongemak op, eerder as om die simptome te probeer stilmaak. Dit skep ‘n veiliger, meer respekvolle omgewing vir hond én mens.
Mite 4: “Ou honde kan nie nuwe truuks leer nie.”
Hierdie ou gesegde laat mense glo dat opleiding of gedragsverandering by ‘n ouer hond nutteloos is.
Feit: Hoewel ouer honde dalk stadiger as jonger honde leer, is hulle beslis in staat om nuwe dinge aan te leer. Met geduld en positiewe versterking kan selfs ‘n bejaarde hond nuwe gewoontes aanleer.
Gevolg: Hierdie wanopvatting veroorsaak dikwels dat ou honde verwaarloos word wat betref geestelike stimulasie, of selfs oorgegee word aan skuilings wanneer hulle gedragsprobleme ontwikkel. Boonop kan opleiding van ouer honde help om gedragskwessies wat met ouderdom verband hou – soos angs, desoriëntasie of oormatige geblaf – beter te bestuur. Deur aan te hou om honde te stimuleer, hou ons hul brein gesond en hul lewensgehalte hoog.
Ouer honde vind, net soos mense, baat by aandag, liefde en die geleentheid om te leer.





