BALTIMORE, LIMPOPO – Een verdagte is Dinsdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem ná die plaasaanval die afgelope naweek waarin die 77-jarige At Mahne op sy plaas naby Baltimore in Limpopo dood is.
Dié 28-jarige verdagte is deur samewerking en ‘n intensiewe soektog van lede van die polisie se provinsiale moord- en roofeenheid, speurders van die Tolwe-polisiëringsgebied, Bosveldmisdaadondersoeke en Bosveld Plaasbeveiliging vasgetrek. Hy is glo in die Lephalale-gebied in hegtenis geneem.
‘n Soektog na die tweede verdagte, wie se identiteit glo bekend is, duur voort. Bewerings dat die verdagte op die oorledene se plaas werksaam was, kon nie bevestig word nie.
LEES OOK: Bejaarde boer (77) dood ná hy en sy vrou op plaas oorval en hy erg aangerand is
Mahne en sy vrou, Pietro, is laatmiddag van Saterdag 29 November in hul plaashuis oorval. Mahne het glo omstreeks 16:00 die huis verlaat om na sy beeste om te sien. In dié tyd het twee mans glo die plaashuis binnegekom en sy vrou oorrompel en vasgebind. Met Mahne se terugkeer na die huis het die twee hom met messe gedreig en ook vasgebind. Hierna is hy ernstig aangerand en items uit die huis gebuit.
Ná die aanvallers op vlug geslaan het, kon Mahne se vrou daarin slaag om hulp te ontbied. Mahne is egter op die toneel dood verklaar.
Die verdagte sal Woensdag 3 Desember in die landdroshof in Senwabarwana – voorheen Bochum – verskyn. Die polisie-ondersoek duur voort.






