FRANSCHHOEK – ‘n Veiligheidswag van die Dogs And All-sekerheidsmaatskappy is Sondag (15 Februarie) helder oordag in Franschhoek aangerand en met ‘n mes in die maag gesteek. Hy is in ‘n ernstige toestand na ‘n hospitaal vervoer.

Volgens Kurt Maske, ‘n vrywilliger verbonde aan die Franschhoek First Responders het die insident ongeveer 17:00 plaasgevind waarna hy en sy span die veiligheidswag bygestaan en op ‘n ambulans gewag het.

Die insident het glo op die hoek van Uitkyk- en Hoofstraat plaasgevind waar die veiligheidswag deur vier onbekede persone, vermoedelik tieners, aangeval en in die maag gesteek is.

Maske het gesê dat die veiligheidswag slegs een keer gesteek is, maar dat die steekwond vermoedelik organe getref het, wat die situasie vererger en baie bloeding veroorsaak het.

Hy weet nie wat tot die onderonsie gely het nie, maar weet dat die vier mense die veiligheidswag agtervolg en toe gesteek het.

Maske se broer het blykbaar ná die insident die strate in gevaar opsoek na die verdagte wat die wag gesteek het, waarna hy hom glo platgetrek en die polisie ontbied het.

Kol. Frederick Rossouw, stasiebevelvoerder by die Franschhoek-polisie, het die insident bevestig en gesê dat iemand wel in hegtenis geneem is. Hy kon nie bevestig of dit ‘n minderjarige is nie. Die Franschhoek-polisie ondersoek ‘n saak van aanrandig.

Volgens Rossouw het die veiligheidswag patrolliewerk vir die Franschhoek Safety Initiative (FSI) gedoen. FSI is ‘n nie-winsgewende organisasie wat op donasies staatmaak om Franschhoek te beveilig.

Hy het beklemtoon dat die FSI ‘n wesenlike verskil in die dorp se veiligheid bewerkstellig en nou saam met die polisie werk.

Volgens ‘n verklaring deur die FSI patrolleer die inisiatief Hoofstraat en waar geld dit toelaat ook omliggende gebiede om die dorp vir inwoners, ondernemings en toeriste te beveilig. Die FSI is in 2022 gestig.

LEES OOK: Franschhoek improves safety with collaborative approach

Luidens die FSI is daar gedurende die somer vier opgeleide wagte wat sewe dae per week patrolleer terwyl twee wagte gedurende die winter ontplooi word. Daar word ook beoog om nog wagte aan te stel.

Die inisiatief werk ook nou saam met Pepler Alarms se beheerkamer. Die veiligheidspan is direk met die beheerkamer verbind, wat in staat is om die polisie en wetstoepassing te aktiveer.

Belangstellendes wat ’n bydrae wil maak of meer inligting wil hê, kan ’n e-pos na fhoekpatrol@gmail.com stuur.

Paarl Post het uitgereik na Dogs and All, maar hulle wou nie kommentaar lewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article