Oor die loop van vyf dae, vanaf Maandag 8 Desember tot Vrydag 12 Desember, sal 6 405 graduandi hul sertifikate, diplomas en grade tydens dertien formele plegtighede ontvang. Dit is nie net 'n ongeëwenaarde mylpaal nie, maar dra ook besondere betekenis as die laaste Desember-gradeweek voordat die US vanaf 2027 oorgaan na 'n enkele jaarlikse gradeplegtigheidstydperk.
Die Universiteit Stellenbosch vier vanjaar ‘n mylpaal met die grootste Desember-gradeplegtigheid ooit. FOTO: Yaël Malgas

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal volgende week geskiedenis maak wanneer meer as 6 000 studente tydens die grootste Desember-gradeplegtigheid ooit in die Coetzenburg-sentrum hulle kwalifikasies ontvang.

Oor die loop van vyf dae, vanaf Maandag 8 Desember tot Vrydag 12 Desember, sal 6 405 graduandi hul sertifikate, diplomas en grade tydens dertien formele plegtighede ontvang. Dit is nie net ‘n ongeëwenaarde mylpaal nie, maar dra ook besondere betekenis as die laaste Desember-gradeweek voordat die US vanaf 2027 oorgaan na ‘n enkele jaarlikse gradeplegtigheidstydperk.

Daar is vanjaar ‘n merkbare toename in kwalifikasies oor al die fakulteite van die Universiteit heen. Die getal doktorsgrade het met byna 12% gestyg vergeleke met die vorige jaar, en vir die eerste keer ontvang meer vroue as mans hul doktorsgrade.

Die Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Teologie het almal ‘n betekenisvolle toename in die aantal kwalifikasies wat toegeken word, getoon.

Die Fakulteit Regsgeleerdheid ken vanjaar ’n rekordgetal van 74 voorgraadse en 96 nagraadse LLB-kwalifikasies toe, terwyl die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ’n nuwe hoogtepunt bereik met 248 BRek-graduandi.

’n Nuwe rekord van 60 BA-grade in Menslike Hulpbronbestuur word in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe toegeken. Beide die Fakulteite Regsgeleerdheid en Natuurwetenskappe behaal hul hoogste getalle meestersgrade met respektiewelik 65 en 83 graduandi.

Die Fakulteit Natuurwetenskappe ken sy hoogste aantal doktorsgrade in vyf jaar toe, met 24 kwalifikasies waarvan ses in Polimeerwetenskap is. Teologie behaal ook ’n mylpaal met die toekenning van elf doktorsgrade – die hoogste in sy geskiedenis.

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe oorhandig vanjaar 25 doktorsgrade, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe 15, en AgriWetenskappe 12.

Die Fakulteit Opvoedkunde ken vyf doktorsgrade toe, terwyl die Fakulteite Krygskunde en Regsgeleerdheid onderskeidelik twee en een doktorskwalifikasies toeken.

Hierdie gradeplegtigheidsweek is nie slegs ’n viering van studente se akademiese prestasie nie, maar bied ook die geleentheid om buitengewone individue te vereer wat uitstaande bydraes tot die samelewing gelewer het.

Drie eredoktorsgrade word toegeken. Colin Deiner, die Wes-Kaapse provinsiale regering se Hoofdirekteur: Rampbestuur en Brand- en Reddingsdienste, ontvang die graad Doktor in die Ingenieurswese (honoris causa) as erkenning vir sy internasionaal erkende kundigheid in rampbestuur en noodreaksie.

Entrepreneur en SU-alumnus Chris Otto, medestigter van die PSG-groep en Capitec Bank, ontvang die graad Doktor in die Regte (honoris causa) vir sy voortreflike bydrae tot finansiële ontwikkeling en regsopleiding aan die Universiteit.

Die wêreldbekende epidemioloog professor Salim Abdool Karim, wie se eredoktorsgraad in 2024 uitgestel is, word vereer met die graad Doktor in die Wetenskappe (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, vir sy baanbrekerswerk tydens die Covid-19-pandemie. Die nasionale minister van gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, sal hierdie geleentheid bywoon.

Die Universiteit het voorts aangekondig dat nog drie eredoktorsgrade tydens die gradeplegtighede in Maart 2026 oorhandig sal word aan die Nobelpryswenner en internasionaal bekroonde skrywer professor Abdulrazak Gurnah; die gesiene sosiale wetenskaplike en epidemioloog dr Olive Shisana; en die innoveerder dr Tjaart Johannes van der Walt.

Professor Deresh Ramjugernath, rektor en visekanselier van die US, het sy trots uitgespreek oor die omvang van hierdie prestasie.

“Gradeweek is altyd ‘n oomblik van diepe trots vir ons Universiteit wanneer ons ons studente eer wat hierdie merkwaardige mylpaal bereik het. Ek wens elke graduandus geluk met hulle harde werk en deursettingsvermoë. Mag hierdie prestasie die begin van ’n leeftyd van doelgerigtheid en moontlikhede wees,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat, wanneer hulde gebring word aan uitstaande leiers wat eredoktorsgrade ontvang, die Universiteit se verbintenis tot uitnemendheid, innovasie en maatskaplike impak opnuut beklemtoon word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article