Peter de Villiers. Foto: Liezl Davids
Peter de Villiers. Foto: Liezl Davids

Die omstrede politikus en voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers (67), het Woensdag (13 Augustus) wéér in die streekshof in Malmesbury verskyn waartydens sy aansoek vir ontslag aangehoor is.

De Villiers, ‘n inwoner van die Paarl, het met sy hofverskyning op 24 Maart onskuldig op die aanklag van seksuele aanranding gepleit, asook op ‘n poging om ‘n seksuele misdryf te pleeg en crimen injuria. Dit kom nadat die klaagster in die saak dié voormalige Bok-breier daarvan beskuldig het dat hy haar na bewering op 30 Januarie verlede jaar seksueel in haar huis in Kalbaskraal, Malmesbury aangerand het. Beide van hulle was op daardie stadium lid van die politieke party, Good.

De Villiers het met die afsluiting van die staat se saak teen hom, op Maandag 14 Julie vir ontslag aansoek gedoen.

Hennie le Roux, De Villiers se regsverteenwoordiger het in sy kliënt se aansoek om ontslag aangevoer dat die onus van bewyse in enige kriminele saak op die staat berus wat bo redelike twyfel moet kan bewys dat die beskuldigde wel skuldig is. “Dit is verder ‘n feit dat die staat ten minste ‘n prima facie-saak teen die beskuldigde met die afsluiting van hul saak moes bring.”

Volgens Le Roux word dit steeds betwis of die beskuldigde die beweerde oortredings gepleeg het of probeer pleeg het. “Die staat vertrou op ‘n enkele staatsgetuie wat alleen was ten tyde die beweerde oortreding.” Sy regsverteenwoordiger sê daar word ook staat gemaak op die getuienis van die klaagster se hoof in die Good-party, Brett Heron by wie die voorval nie eerste aangemeld was nie en dus nie die uitsondering op die hoorsê-reël is nie. “Dit wil voorkom dat die getuie ‘n motief gehad het om die beskuldigde valslik te impliseer met betrekking tot die beweerde klagtes wat gesien kon word toe hy nie ‘n bevredigende verduideliking aan die hof kon verskaf oor hoekom die beskuldigde summier met ‘n brief van sy pligte en posisie ontslaan is nie, en die manier hoe die saak hanteer is,” sê Le Roux.

LEES OOK: GOOD-party skors Peter de Villiers

Hy voer aan die staat steun verder op die omstandigheidsgetuienis van ‘n mediese dokter wie die klaagster ondersoek het. Die J88-verslag van die mediese dokter stel ligte beserings voor. Die beserings volgens die verslag sluit kneusplekke op haar regter bobeen en skraapplekke op haar rug in. “Ons weet daar was ‘n tafel en meubels in die sitkamer waar jy sal moet verby wat ‘n stamp of ‘n krapmerk of twee (kon veroorsaak) as jy wou raai, wat nie elimineer kan word nie.” Hy meen egter die kern van die beserings was haar gewrig waarna sy in haar getuienis op klem opgelê het . “Hoekom sou die dokter dit nie sien nie of weet nie.” Volgens hom is die dokter nooit geroep om meer duidelikheid oor die beserings te gee nie en meen die hof moet nou weereens bespiegel oor hoe die beserings ontstaan het.

Volgens De Villiers se regslui was die klaagster as enkele staatsgetuie ontwykend, het probeer om vrae te ontduik en was selektief oor watter vrae sy gaan beantwoord en watter nie.

“Die klaagster se getuienis is besmet met teenstrydighede.” Volgens hom gaan dit tot in die kern vir die bepaling van haar eerlikheid en betroubaarheid rakende die misdrywe waarvan sy De Villiers beskuldig.

Le Roux het in sy slotbetoë gevra dat die hof De Villiers onskuldig bevind en ontslag toestaan. “Wie se besluit dit ook al was om te vervolg, het nie behoorlik gedink toe daar besluit is dat die bewerings van ‘n beweerde poging tot ‘n soen, ‘n misdryf is nie.” Die saak, het Le Roux gesê, is “op sigwaarde hoogtens net immoreel en nie onwettig nie.”

Peter de Villiers
Peter de Villiers verlaat die streekshof in Malmesbury saam met sy regsverteenwoordiger Hennie Le Roux.

Die staatsaanklaer, Derrick Grootboom het dit duidelik in die staat se repliek gestel dat die aansoek teengestaan word.

Die staat plaas die beskuldigde bo redelike twyfel by die toneel van die beweerde oortredings op 30 Januarie 2024. Die staat voer verder aan dat hulle sonder twyfel bewys het dat die klaagster die volgende dag ‘n mediese dokter besoek het wat ‘n J88-verslag uitgereik het en na die beserings verwys. “Die tweede getuie vir die staat, Heron, ook ‘n prokureur, het getuig dat die beskuldigde teenoor hom as sy hoof by die Good-party, erken het dat hy die klaagster probeer soen het en dat die beskuldigde dit verder aan die lig gebring het dat die klaagster ‘iets mis in haar lewe’. Die getuienis van Heron stem ooreen met die getuienis van die klaagster.” Die staat het voorts gesê die beskuldigde het gedurende sy kruisverhoor nie die plek, tyd en en datum van die beweerde oortredings betwis nie. Ook nie dat hy alleen in haar geselskap was nie, maar wel die dade waarvan hy beskuldig word.

Uitspraak sal op 28 Augustus in die streekshof gelewer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article