IN Suid-Afrika se grendelstaat-periode teen die Covid-19 virus, het die getal vergiftigde uile en beseerde kleinwild regoor Nelson Mandelabaai-metropool toegeneem.
Arnold Slabbert, ’n stedelike kleinwildbewaarder en roofvoëlrehabiliteerder het in ’n onderhoud op RSG gesê die rede hiervoor is dat mense by hul huise sit en goed sien wat eintlik elke dag gebeur, wanneer hulle op kantoor sou wees.
Slabbert is die afgelope 30 jaar voltyds gemoeid met stedelike kleinwild- en roofvoëlbewaring in die Nelson Mandelabaai-streek.
Volgens hom is daar sommige mense wat uit verveling hul windbukse uithaal en skiet op voëls, ape en ander kleinwild.
“Natuurlik is dit baie wreed want meeste van die kleinwild word nie doodgemaak nie, maar word net beseer of gekwes en dan neem dit ’n lang tyd en vreeslike lyding voor so ’n dier sterf.”
Dit is veral voëls soos hadidas, kolganse, tarentale en duiwe en ook ape wat in die tydperk kwaai gely het weens mense se wreedhede teenoor diere.
“Ek het ’n aap gekry wat met ’n windbuks in sy rug geskiet is. Hy het sy agterbene en boude rougesleep omdat hy vir ’n paar dae nie by kos of water kon uitkom nie. Ek moes hom verlos van sy lyding. Ek wens die mense wat sulke goed aanvang kan dieselfde beleef.”
Volgens Slabbert is die meerderheid mense onder die wanindruk dat die kaliber .177 windbuks in ’n stedelike gebied gebruik kan word omdat dit van die vuurwapenlys afgehaal is, met ander woorde jy het nie ’n lisensie vir dit nodig nie.
“Dit is onwettig om ’n windbuks in ’n stede-like gebied af te vuur en onwettig om ’n kaliber .177 te gebruik om wild mee te jag. Die straf vir die afvuur van ’n windbuks of ’n antieke geweer in ’n stedelike gebied is vyf jaar tronkstraf.”
Die toename van vergiftigde uile en selfs hadidas skryf Slabbert toe aan grendeltyd se vereistes dat restaurante en ander plekke waar daar voorheen kos vir huis- of dakrotte was nou gesluit is.
“Rotte kry nie kos waar hulle gewoonlik sou aas nie en daarom wyk hulle uit na residensiële areas. Weereens sit mense by die huis en sien ’n rot en dadelik word die gif uitgehaal, sonder om te dink wat die implikasie daarvan is.
“In een week het ek drie uile gekry wat vergiftigde rotte geëet het. Al drie uile het gesterf.”
Op Uitenhage het hy ook ’n vergiftigde uil en ’n vergiftigde skoorsteenveër (African sacred ibis) aangetref. Die skoorsteenveër het gesterf. Die uil word nog gerehabiliteer.
Slabbert sê as daar ’n rot- of muisprobleem by ’n huis is, is dit beter om vas te stel hoekom die knaagdiere daar nesskop, voordat gif bloot uitgesit word.
“Gaan kyk of daar vrugte of saad naby is, dit is die goed wat hulle lok. In die meeste gevalle voer mense voëls en daardie saad lok ook die rotte. Dieselfde geld vir hondekos. Die rotte hou van die honde se pille en eet lekker saam.
“Moet nie gif uitsit nie, dit maak nie net die rot of muis dood nie, maar ook die res van die voedselketting deur sekondêre vergiftiging. Daar is nie iets soos roofvoëlvriendelike gif nie. Gif maak dood.”
Slabbert beveel aan dat rotvanghokke eerder gestel met word.
“Gaan Google dit op YouTube. Daar is baie voorbeelde daarvan en spaar so die uile en ander diere in die voedselketting hul lewens,” sê Slabbert.



