Te midde van die groot virusvrees het ’n loodgieterspan tydens die grendelstaat 63 van die 82 waterlekke op Despatch herstel. Hier is (voor van links) Willy Mfokazi, Amos Maku, Frans Swanepoel (raadslid), BZ Jafta en Riaan Scheepers (loodgieter). (Sien storie op p.2).foto:HEILIE COMBRINCK

Te midde van die groot virusvrees het ‘n loodgieterspan dit tog gewaag om die strate van Despatch in te vaar en waterlekke reg te maak.

Aan die begin van die grendelstaat was daar 82 waterlekke op die dorp. Die loodgieter wat deur die Nelson Mandelabaai munisipaliteit gekontakteer is om Despatch se waterlekke te herstel, se span het ingespring en teen verlede Donderdag was 63 van die waterlekke herstel.

“Onthou daar word daagliks waterlekke aangemeld, so dit is ‘n nimmereindigende werk, maar hierdie vyf ouens sit nie terug nie. Hulle ken die dorp se watertoevoernetwerk en maak lekke reg teen ’n spoed,” sê Frans Swanepoel, ’n inwoner van Despatch en proporsionele verteenwoordigende raadslid (DA) in Nelson Mandelabaai munisipale raad.

Op Despatch word ’n gemiddeld van sewe waterlekke oor ’n tydperk van drie dae aangemeld.

“Die voordeel is dat Riaan Scheepers en sy span die dorp ken en hulle werk ken. Hulle weet presies waar om waterkleppe toe te draai, sodat dit die minimum impak op inwoners se watergebruik het, terwyl hulle besig is met herstelwerk.

“Ons het op hierdie stadium op Despatch die beste loodgieterspan, rioolspan en die beste elektriese afdeling in die hele metro,” sê Swanepoel.

Wat volgens Swanepoel bydra tot die sukses met die herstel van waterlekke op Despatch is dat die gate waar daar aan waterlekke gewerk word, gou en op die regte wyse toegegooi word. So-ook word die padoppervlak spoedig herstel indien dit tydens loodgieterwerk oopgekap moes word.

“Ek wil graag aan al die spanne dankie sê vir die professionele wyse waarop hulle herstelwerk doen. En ook aan die publiek wat waterlekke aanmeld en saam met ons poog om die dorp weer in ’n goeie en netjiese toestand te kry.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article