Die oggendstond het goud in die mond – ‘n gunsteling-sêding vir ‘n vroegopstaner.
Sy oë gaan oop saam met die voëls wat kwetter.
Die voordeur is sy eerste stop – is die koerant al op die stoep?
Daar is ‘n huppel in sy stap, ‘n lied in sy siel.
Sy wil is sterker as die moer in sy oggendkoffie.
Hy geniet bruinbeskuit (“nee, gesondheidsbeskuit, my kindjie”) saam met die swart koffie terwyl sy oë vlugtig die hoogtepunte, stand van die markte, en (baie belangrik) die dag se weer bekyk. Die res is leesstof vir middagete.
Dan, ‘n vinnige paar strekoefeninge voor hy gereedmaak vir die dag.
Hy rek sy hande na die hemele en dan vinnig na sy tone … loer tussendeur sy bene en steek sy tong uit vir die bruinoë wat hulle aan die roetine verkyk.
Daardie twee stelle bruinoë, sy hele lewe.
‘n Vinnige stappie word ook deur die loop van die dag ingepas; op ‘n mooi somersdag sommer die twee kilo’s werk toe.
Saterdae, en in die somer ook deur die week, werskaf hy in ‘n tuin wat nooit klaarkom nie – sy perskes, vye en pruime is sy trots.
Sondae sing hy uit volle bors in die kerkbanke.
Die hoogtepunt van sy week is die Sondagmiddag-uitstappies – son en swem, stap in die natuur, of as dit te koud is, ‘n lekkerny – verkieslik melktert – by een of ander padstal.
Vakansies word by die see baljaar, altyd net mooi naby genoeg om ook by sy eie ma – reeds diep in haar negentigs – te gaan inloer.

Sy hart verlang dikwels terug na die plaas, die plek waar sy kinderjare se stof nog aan sy skoene sit.
Die jare bring geluk, ook seer en smart, maar niks kan sy lied demper nie.
Die dekades stap verby.
Twee dinge bly konstant: die Afrikaanse koerant saam met sy oggendkoffie en die bruinoë wat, hoewel nou nie meer kinders nie, steeds sy hele lewe is.
Van die tuig neerlê en versit na ‘n makliker heenkome, wil hy niks weet nie. Maar selfs daardie dag breek aan.
Die bruinoë kyk nou met ‘n ander soort deernis na hom.
Waar hy hulle vroeër oor die drumpel gedra het, is dit nou hulle wat sy arm stewig moet vasvat as die huppel in sy stap soms huiwer.
Sy hart verlang dikwels terug na die plaas, die plek waar sy kinderjare se stof nog aan sy skoene sit.
Die huppel in sy stap is nou meer wil as weg.
Sy lied is ‘n geneurie met vergete lirieke.
Gister kon ons berge versit, of minstens die wil was daar.
Vandag is hy hardkoppiger as ‘n rebelse tiener.
Wat môre gebeur, daardie realiteit sal net die oggendstond openbaar.
Die jare is baie, maar die lewe is kort. Koester jou geliefdes terwyl jy nog kan.
Soos die lirieke van Cody Johnson ons herinner: “You can always put a rain check in his hand. ‘Til you can’t.“



You must be logged in to post a comment.