Bellville-velodrome se swanesang op 13 November.

Switserse span ook by afskeid vir Bellville-velodrome


‘n Sterk Switserse baanfietsryspan sal op Vrydagaand 13 November deel wees van die verrigtinge wanneer amptelik van die Bellville-velodrome afskeid geneem word.

Die deelname van ewe sterk Britse en Belgiese spanne om teen die room van Suid-Afrika in aksie te wees, sal teen aanstaande week bevestig word. Die teenwoordigheid van dié twee spanne sal groot nostalgie onder Suid-Afrikaanse ondersteuners van dié sport teweeg bring.

1992

Met die eerste byeenkoms in die Velodrome in Maart 1992 was dit die Engelse en Belge wat die land ondersteun het met die einde van apartheid in sig. Ofskoon daar tans geluide is dat die beskikbaarheid en behoud van dié ikoniese fasiliteit in die hof kan gaan draai, is die amptelike weergawe dat die Velodrome voortaan nie meer beskikbaar sal wees vir fietsrybyeenkomste nie. Net die tyd sal leer of daar enigiets van dié aksie sal kom.

LEES OOK: Provinsiale regering se jaarlikse fietsrit baat talle Stellenbosch-skole

Die Switsers se aanslag sal gelei word deur Alex Vogel, wat vanjaar by die Europese Kampioenskap in Februarie in Turkye die gewilde “Scratch”-wedren gewen het. Die ander lede van die span is Max Priemer, Pascal Tappeiner, Luca Bühlmann, Mats Poot en Noa Gremaud. Die suksesvolle en gewilde Franco Marvulli sal as bestuurder van die span optree.

Tussen dié klomp Switsers is dit ‘n goeie mengsel van jeug en ervaring met die verskil dat elkeen van hulle gedurende hul loopbaan tot dusver medaljes op van die groot internasionale verhoë losgery het met die klem op uithouvermoë in langer baanafstande en selfs in padwedrenne.

Swanesang

Wat egter opmerklik is, is hoe die organiseerders die swanesang van die Velodrome saamgestel het. Twee van die items, die 1500 m en die 400 m-naelrit, is suiwer Suid-Afrikaanse innovasies met wedrenne wat nie in ander dele van die wêreld gehou word nie. Die 1500m veral, was en sal altyd, ‘n groot gunsteling onder Suid-Afrikaanse ondersteuners bly.

Die 400m-naelrit waar lootjies getrek word om jou posisie by die wegspring te bepaal en waar die helper met die beste stoottegniek vir ‘n deelnemer die voordeel kan bewerkstellig, is lanklaas gesien, maar was vroeër net so gewild. Die ander items is die internasionaal erkende 1000m-naelrit, die Uitvalwedren en ook die 20km Madison. Dit is veral in dié drie wedrenne waar die Europeërs die oorhand behoort te hê, maar Suid-Afrikaners het die vermoë om veral op hul tuisbane dikwels die spreekwoordelike haas uit die hoed te pluk en verrassings te lewer.

Die samestelling van die Switserse span herinner sterk aan die 1982-byeenkoms toe ‘n baie sterk span in Suid-Afrika in ‘n reeks van drie toetse teen ‘n Springbokspan deelgeneem het. Die algemene verwagting was dat die buitelanders die vloer – of die baan – met die Suid-Afrikaners sou vee, maar teen die verwagting in het die Bokke die reeks met 3-0 beklink!

LEES OOK: Fietsryers sê dankie

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article