Brackenfell se geliefde Markie op die Parkie is in gevaar, en inwoners is woedend.
Die Stad Kaapstad het reeds in 2024 goedkeuring verleen vir ‘n permanente staanplek vir informele handelaars in die parkeerterein reg langs die speelparkie vir kleuters in Springbokpark, sonder dat die gemeenskap behoorlik geraadpleeg is. Nou is ‘n petisie in omloop.
Die goedkeuring vir die projek is in ‘n tyd verleen toe die wyk sonder vaste verteenwoordiging was, naamlik in die tyd tussen die uittrede van wykraadslid Marian Nieuwoudt en die aanstelling van wykraadslid Johan Loots.
LEES OOK: Brackenfell se ‘Mark met Hart’ keer terug met 140 stalletjies
Inwoners beweer dat hulle nooit werklik die geleentheid gehad het om beswaar te maak nie. Volgens inligting tot die gemeenskap se beskikking behels die ontwikkeling die lê van betonblokke met vasmaakpunte vir die gazebo’s van geregistreerde informele handelaars. Die blokke sal egter ook toegang tot albei hekke van die bestaande parkie belemmer, of selfs heeltemal afsny.
Geen publieke insette
Geregistreerde handelaars sal ‘n fooi betaal vir die reg om daagliks van 08:00 tot 17:00 daar handel te dryf, naweke ingesluit, met kontrakte wat oor ‘n tydperk van drie jaar geldig sal wees.
Die Stad het aangedui dat wetstoepassers sal sorg dat alles ordelik verloop. Maar wat egter sterk opval, is dat die planne geen voorsiening maak vir sanitasiegeriewe nie. Mobiele toilette word slegs genoem as ‘n moontlikheid, “indien dit blyk nodig te wees”.
Gemeenskap sê hulle was nie ingelig nie
Die Stad beweer dat pamflette met kennisgewing voor die goedkeuring in die posbusse van alle eiendomme binne twee strate van die beoogde ontwikkeling geplaas is, en dat advertensies ook in twee koerante verskyn het.
Inwoners is ingelig dat ‘n vergadering na bewering ook gehou is, maar dat niemand opgedaag het nie, waarop die Stad afgelei het dat daar geen besware is nie.
Gemeenskap vrees wetteloosheid
Inwoners betwis egter hierdie gevolgtrekking en voer aan dat ‘n gebrek aan verteenwoordiging op ‘n vergadering nie gelykstaande is aan die afwesigheid van besware nie, veral wanneer die gemeenskap moontlik nie voldoende bewus was van die implikasies van die voorgestelde ontwikkeling nie.
Inwoners wat bekommerd is oor die handhawing van orde en reëls verwys na soortgelyke situasies elders in die Kaapse metropool as bewys dat die beheerstelsels wat die Stad beloof eenvoudig nie funksioneer nie.
In die petisiedokument wys hulle op toestande in Kraaifontein se hoofstraat, Shoprite se parkeerterrein in Kuilsrivier, asook Durbanville se hoofstraat as voorbeelde van wat gebeur wanneer toesig tekortskiet.
“Dit lyk soos dit lyk omdat die beheerstelsel doodgewoon nie daar werk nie, en dit sal hier ook nie werk nie,” lui die algemene gevoel onder betrokkenes.
Nagevolge vir die gemeenskap
Die vermindering van beskikbare parkeerruimte word as nog ‘n ernstige bron van kommer uitgewys. Gevestigde sakeondernemings in die omgewing moes by die aanvraag van hul besigheidsgoedkeuring kon aantoon dat voldoende parkeerruimte beskikbaar is.
Die verlies van parkeerplekke het dus ‘n direkte nadelige uitwerking op enige toekomstige aansoeke om uitbreiding van dié ondernemings.
Daar word ook gevrees dat die gewilde Markie op die Parkie, ‘n gewilde gemeenskapsgeleentheid moontlik gestaak sal moet word as gevolg van die mededinging wat die informele handelaars sal meebring.
Dit gaan die hele buurt raak, nie net die mense wat reg langs die park woon nie.
Uitgrawings in die parkeerterrein het reeds begin, wat die saak verder dringend maak.
“Dit gaan die hele buurt raak, nie net die mense wat reg langs die park woon nie,” waarsku betrokkenes. “Ons het min tyd. Elke stem tel.”
By navraag het die Stad Kaapstad gesê die kwessie word ondersoek. TygerBurger wag tans vir ‘n antwoord op ‘n amptelike medianavraag.
Inwoners word dringend versoek om die petisievorm in te vul en dit aan Dudley Pretorius, voorsitter van die Fernpark-buurtwag, te besorg by info@fernpark.co.za. Die besware sal saamgevoeg word met dié van plaaslike sakeondernemings en die Brackenfell Forum, en aan Johan Loots oorhandig word vir verdere optrede.





