Die Brackenfell-forum het onlangs op ‘n gespanne gemeenskapsvergadering ernstige beswaar aangeteken teen die Stad Kaapstad se planne om formele staanplekke vir informele handel op die parkeerterrein langs Jannie Engelbrecht-park op te rig – sonder behoorlike openbare raadpleging, sonder ‘n beskikbare haalbaarheidstudie en sonder voorsiening van basiese geriewe soos toilette, volgens inwoners.
Die projek is glo al in 2024 goedgekeur hoewel geen man of muis daarvan geweet het nie.
Die forum, wat die park met toestemming van die Stad oor jare suksesvol vir gemeenskapsgeleenthede gebruik het, waarsku dat die projek nie alleen vrugtelose besteding van belastingbetalers se geld kan wees nie, maar ook die karakter van die omliggende woonbuurt en inwoners se lewensgehalte onherstelbaar kan benadeel.
Die Brackenfell-forum is ‘n burgerlike organisasie wat hom beywer vir samehorigheid deur onderbenutte parke vir gemeenskapsdoeleindes te benut. Terselfdertyd bied die forum ‘n platform vir klein entrepreneurs om tuisgemaakte produkte by ‘n gereguleerde Markie in die Parkie te verkoop.
“Sedert die eerste Markie in die Parkie op 28 Oktober 2017 in Jannie Engelbrecht-park, waarvoor alle wetlike vereistes, insluitend ‘n volledige aansoek by die Stad, nagekom is, het soortgelyke geleenthede ook in ander parke plaasgevind,” het Alta van Zyl, voorsitter van die forum, op die vergadering gesê.
Planne onthul
Die projek het eers onlangs aan die lig gekom, en inwoners is nog skaars ingelig toe kontrakteurs voorverlede week reeds op die terrein verskyn en dag en nag gewerk het om die staanplekke in ‘n rekordtyd te voltooi. En dit terwyl ‘n gemeenskapspetisie teen die projek reeds in omloop was.
LEES OOK: Stadsplanne bedreig bekende mark in openbare park in Brackenfell
Nog voordat enige kontrakteur op die perseel was, het Brackenfell-forum en Johann Loots, raadslid vir Wyk 8, op 6 Mei met amptenare van die departemente van parke en ekonomiese ontwikkeling vergader.
“Verskeie reguit en moeilike vrae is op die tafel geplaas, met min of geen volhoubare antwoorde nie, maar met die versekering dat ons op Vrydag 8 Mei van die antwoorde voorsien sou word,” het Van Zyl gesê en bygevoeg dat geen antwoorde of kommunikasie egter aan die forum of die wykraadslid verskaf is nie.
Vrae was in openbare belang en het onder meer die volgende ingesluit: Is ‘n haalbaarheidstudie gedoen wat betref die kapitale uitleg en wat is die beoogde uitkoms van die projek?
“Dit aangesien daar vir elke kapitale uitgawe in die begroting voorsiening gemaak moet word,” verduidelik Van Zyl. Ook die koste van die projek is aangevra.
Verskeie vrae oor openbaredeelnameprosesse is ook gevra aangesien nie aangrensende inwoners, óf sake-eienaars, óf die forum self enige kennisgewing in dié verband ontvang het nie.
“As party van belang, geregisteer in die Stad se databank, wat oor jare die park met volle toestemming van die parke-afdeling gebruik het, het ons geen kennis van sodanige openbare deelname ontvang nie,” sê Van Zyl.
“Oor die jare heen is verskeie vergaderings met amptenare van die parke-afdeling gehou, speelapparaat is daarheen verskuif en die forum het betaal vir die herstel van gevandaliseerde houtapparaat en verskeie skoonmaakaksies in verskillende parke. Die park is gedeeltelik uit die wyksbegroting omhein om ‘n veiliger hawe vir stalletjiehouers te skep.”
En toe die forum wou weet of ablusiegeriewe in die begroting ingesluit is, was die antwoord volgens Van Zyl ‘n bondige “nee.”
“Ons kan onder geen omstandighede toelaat dat Brackenfell in ‘n Kraaifontein- of Bellville-sakekerngebied verval nie.”
“As inwoners van Ferndale, veral Springbokpark en aangrensende eiendomme rondom Jannie Engelbrecht-park, kan ons onder geen omstandighede toelaat dat Brackenfell in ‘n Kraaifontein- of Bellville-sakekerngebied verval nie,” het sy gesê verwysende na die agteruitgang in die gebiede weens informele handel.
“Dit gesê, gun ons ‘n plek vir elkeen wat in hierdie moeilike ekonomiese tye ‘n inkomste wil genereer, maar in geval van informele handel, soos in Kraaifontein en Bellville, moet die afgebakende gebiede so geleë wees dat dit die betrokke mark kan akkommodeer.”
“Hierdie poging van die Stad Kaapstad skep beslis nie ‘n ekonomiese werklikheid nie, maar slegs ‘n verwagting. Jannie Engelbrecht-park is nie so geleë dat dit op ‘n volhoubare wyse informele handel winsgewend sal maak nie, dit is twee blokke van Ou Paarlpad, die hooftoevoerroete vir busse en taxi’s, asook Pick n Pay, Checkers en verskeie kitskos- restaurante.
“Wat meer kan informele handel bied wat kan meeding met ondernemings wat loopafstand van taxi’s en busse is?” het sy gevra.
Die wykraadslid vir Wyk 8, Johann Loots, wat ook die vergadering bygewoon het, het gemeld dat al die inligting tot sy beskikking met betrekking tot die projek weersprekend is, en dat hy reeds in dié verband met die Stadsbestuurder kontak gemaak het.
Die Stad antwoord
In antwoord op ‘n medianavraag het die Stad Kaapstad gemeld dat kennisgewings oor die projek en die destydse openbare vergadering per hand op 4 April 2024 by aangrensende huise en ondernemings afgelewer is, ‘n stelling wat deur sakemense en huiseienaars betwis word.
“Inwoners wat genader is, was nie verplig om ‘n ontvangserkenning te onderteken nie, en gevolglik is geen rekord van handtekeninge gehou nie,” het Luthando Tyhalibongo, `n woordvoerder vir die Stad, gesê toe TygerBurger gevra het vir bewys van aflewering.
Die Stad het verder gemeld dat kennisgewings ook op die kennisgewingbord by die munisipale kantore aangebring is, en dat advertensies in twee koerante verskyn het, naamlik die Kraaifontein-uitgawe van die TygerBurger en die Cape Argus. Dit moet egter genoem word dat die Kraaifontein-uitgawe van TygerBurger geensins in Brackenfell versprei word nie, aangesien Brackenfell sy eie uitgawe het.
En waarom in die Kraaifontein-uitgawe, wou die koerant weet? “Die Informele Handelsplan het die geheel van Subraad 2 gedek, wat beide Kraaifontein en Brackenfell insluit, met die meerderheid van die voorgestelde handelsplekke in die groter Kraaifontein-gebied geleë,” was Tyhalibongo se antwoord.
Op TygerBurger se vraag oor ‘n amptelike haalbaarheidstudie het Tyhalibongo bloot gesê dat die spesifieke projek nie op ‘n individuele haalbaarheidstudie steun nie, maar eerder op die uitvoering van ‘n goedgekeurde raadsbesluit, gebaseer op ‘n handelsplan en die toepaslike regulatoriese raamwerk wat informele handel binne die Stad reguleer.
Jannie Engelbrecht-park, sê Tyhalibongo, is gekies op grond van ruimtelike en ekonomiese oorwegings wat voetgangeraktiwiteit, toeganklikheid, handelsvraag en versoenbaarheid met die omgewing insluit.
Tydelike maatreëls, soos mobiele ablusiegeriewe, is standaardpraktyk terwyl permanente oplossings beplan en geïmplementeer word.
Daar is ook gemeld dat daar geen operasionele begroting vir die projek in die huidige boekjaar is nie.
Met betrekking tot ablusiegeriewe het Tyhalibongo gesê handelaars sal toegang hê tot “bestaande ablusiegeriewe binne die aangrensende sakepark.”
Toe TygerBurger uitwys dat die agt sakepersele langs die park privaatkantore is sonder publieke toiletgeriewe, het hy soos volg geantwoord: “Die Stad sal enige behoefte assesseer en, waar moontlik, gepaste middele identifiseer om dienste te verskaf wat handelsaktiwiteite ondersteun. Tydelike maatreëls, soos mobiele ablusiegeriewe, is standaardpraktyk terwyl permanente oplossings beplan en geïmplementeer word,” sê hy.
Op die vraag of dit bevorderlik is om informele handelaars reg langs ‘n speelpark vir kleuters te plaas, waar dit ook die hekke van die park versper, het die Stad geantwoord: “Informele handelsaktiwiteite hou geen risiko’s vir kinders in nie.
“Die Stad poog om informele handel te akkommodeer op ‘n wyse wat ekonomiese geleenthede ondersteun, terwyl die veiligheid, toeganklikheid en funksionaliteit van openbare ruimtes vir alle gebruikers, insluitend kinders, gehandhaaf word. Indien enige bekommernisse ontstaan, kan dit deur die Stad geassesseer word om te bepaal of enige gepaste operasionele aanpassings geregverdig is.”



