Die RVR-tuinklub van DF Akademie het die jaar op ‘n betekenisvolle noot begin deur sy vars oes van spinasie, uie, wortels, spriet-uie en kruie aan plaaslike gemeenskapsinstellings te skenk.
Die klub het onlangs donasies oorhandig aan die Alpha-tehuis in Boston en Huis Ravenzicht in Kraaifontein.
Huis Ravenzicht is een van Helpende Hand Durbanville-tak se projekte, en die skenking is in samewerking met hierdie organisasie gemaak.
“Ek doen geweldig baie werk vir Helpende Hand en het gevoel die groenteskenking sal ‘n groot bydrae maak in baie bejaardes se harte,” vertel Lorinda Smit, wat die tuin gestig het.

Die klub het groot planne vir 2026. Saam met Helpende Hand en AfriForum sal hy as deel van sy gemeenskapsprojekte ‘n groentetuin by die Alta du Toit-nasorgsentrum in Boston tot stand bring. Hierdie inisiatief het ten doel om die tehuis selfonderhoudend met groente te maak en ook ‘n bron van inkomste te skep.
Die Alpha-tehuis, wat slegs twee blokke van DF se groentetuine geleë is, het reeds belangstelling getoon. Volgens Smit lees inwoners van die tehuis graag oor die klub se aktiwiteite en wil nou graag groente direk van die skool af aankoop.
Die tuinklub beplan om ‘n uitreikprogram met die tehuis en New Life Centre te begin om hul direkte gemeenskap te bedien en selfwaarde by die bejaardes en moeders daar teweeg te bring.
“Dit bly een van ons hoofoortuigings en ingebrand in elkeen hier se siel – ‘Life is not a solo journey’!” sê Smit.

- Bel Smit by 064 694 4930 met navrae.






You must be logged in to post a comment.