Danica Munro
Danica Munro met een van die eende, Tina Turner, in haar sorg.

Rehabilitasie-fasiliteit vir voëls in Kaap soek nuwe heenkome


Troeteldiere soos honde en katte, ander, soos wild en seevoëls wat beserings opdoen, het almal rehabilitasiesentrums waar hulle versorg kan word. Vir tuinvoëls soos duiwe en kwikstertjies is dit egter nie die geval nie. Dis juis om dié rede dat die Monte Vista-inwoner Danica Munro haar woning, tyd, dienste en hulp beskikbaar gestel het — om dié soort diere ‘n tweede kans te gee, plaas daarvan dat hulle ly, of uitgesit word.

Dié inwoner van Middelburg-rylaan versorg sedert 2016 tuinvoëls wat in die moeilikheid beland. Sy beklemtoon egter dat haar huis nie ‘n rehabilitasiesentrum is nie, maar wel ‘n plek waar beseerde voëls versorg word.

Hier word beseerde voëls na gekyk, gevoer, versorg en as hulle sterk genoeg is, terug in die natuur vrygelaat.

Oor die jare heen het die vraag na hulp vermeerder, soveel so dat ‘n groter fasiliteit nou nodig is, verduidelik sy.

Danica, ‘n versorger, het aan TygerBurger vertel dat sy ‘n dekade gelede ‘n duif, wat uit sy nes geval het, gehelp het en sodoende ‘n liefde vir tuinvoëls ontwikkel het. Sy het in 2018 voltyds na tuinvoëls begin omsien en doen dit nog al die tyd alleen. Soms help vrywilligers haar wel.

‘n Soortgelyke diens is vroeër deur ‘n inwoner van Pinelands aangebied, maar toe die perseel sy deure sluit, was daar geen heenkome vir tuinvoëls nie, en het Danica ingegryp. Sy het aansoek gedoen om ‘n permit wat deur CapeNature goedgekeur is, verduidelik sy. Die enigste ander soortgelyke fasiliteit is in Rooiels.

Danica bied ook opleiding aan beamptes by die Kaap die Goeie Hoop Dierebeskermingsvereniging (DBV) oor hoe om beseerde roofvoëls, soos uile, te hanteer, vertel sy.

Danica Munro
Die bak vol sogenaamde Super Worms, wat spesiaal van Johannesburg en Durban vir die voëls gebring word.

Pasiënte

Die meeste van haar “pasiënte” by die egpaar se huis in Monte Vista is duiwe, tog sien sy tans om na ‘n gans genaamd “Tina Turner”.

Die duiwe-spesies sluit in die Rooiborsduif of Lemoenduif (Laughing dove), Grootringduif of Groot-rooioogtortelduif (Red-Eyed dove) en Kransduif (Speckled dove). Daar is ook Kwikstertjies (Wagtails), Hadedas en Muisvoëls (Mouse birds) in haar sorg van tyd tot tyd. Die Afrikaanse Sperwer, ‘n roofvoël, sak ook soms hier toe.

Die meerderheid van die voëls word deur katte by huise ingebring, verduidelik sy. Die siekes word na veeartse geneem wat hulle ondersteun, sê sy.

Sedert 2018, bereken Danica, het sy reeds 85 000 voëls versorg. Daar is tans sowat 25 voëls in haar sorg, en op ‘n besige tyd kan daar tot 80 voëls op die perseel wees.

Die voëls word in hokke, wat deur die publiek geskenk is, gehuisves.

Om na die voëls om te sien is egter nie goedkoop nie, sê sy. Danica koop gereeld groente en vrugte aan, saad word bestel en die meel- en superwurms kom al die pad van Johannesburg en Durban, wat haar maandeliks duisende rande uit die sak uitjaag.

Danica Munro
Danica maak ook tyd vir skilder. In haar vry tyd skilder sy graag voëls.

Fasiliteit

“Die mense weet waarheen om te kom as ‘n voël beseer is,” sê sy.

Maar, daar word nou hard gepoog om ‘n groter fasiliteit aan te skaf. Sy reik nou uit na die publiek om hulp.

Die huis waar hulle tans is, is klein en die woning binne beknop vanweë al die toerusting wat sy benodig om die diere te versorg.

Die nuwe tuiste sal ‘n tuin benodig, dit moet binne ‘n 10km-radius van die huidige huis wees, moet ‘n kombuis hê, ‘n toilet vir toekomstige personeel en minstens drie tot vier kamers waar die voëls gekwarantyn en behandel kan word. Daar sal ook ‘n waskamer moet wees en ‘n vertrek vir hokke. Danica sê hulle beoog om later ook die dienste van ‘n veearts aan te bied.

Sover is die plaaslike inwoners en bure ondersteunend teenoor die werk wat sy verrig, maar daar word gehoop dat die ondersteuning wyer sal uitkring, aangesien die nood baie groot is.

LEES OOK: Inwoners moet hul deel doen vir natuurbewaring sê Wyk 1 raadslid Cheryl Visser

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article