Radio Tygerberg 104FM het verlede week met groot dankbaarheid hulde gebring aan dr. Raymond Lombard, leier van die Volle Evangelie Kerk, Lewende Woord, in Parow-Noord, vir sy 28 jaar van getroue bediening op die radiostasie.
Vir byna drie dekades het Lombard elke week twee preke opgeneem wat dan deur die radiostasie uitgesaai is. Hy was nooit laat nie, nooit onvoorbereid nie — altyd gehoorsaam aan die roeping om God se woord te verkondig en mense met hoop te bedien, sê die radiostasie.
Lombard onthou sy eerste opname met groot vreugde. Dit was saam met ds. Soon Zevenster, stigter van Radio Tygerberg, in die nederige beginjare van die stasie. Die opname is sommer in die kerk gemaak — dieselfde plek waar die droom van Radio Tygerberg begin vorm aanneem het.
Een van die groot hoogtepunte vir hom was toe ds. Soon hom genooi het om saam Fokus op die Woord aan te bied. Wat as ‘n besondere geleentheid begin het, het uiteindelik ontwikkel in ‘n bediening van 28 jaar, sê die radiostasie.
Benewens die weeklikse preke was daar oor die jare talle onderhoude, insette en programme — byna 3 000 opnames altesaam — wat luisteraars landswyd geïnspireer en bemoedig het.
Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van die Bloudruk-groep waarvan Radio Tygerberg deel is, het Lombard bedank vir sy “28 jaar lange reis saam met Radio Tygerberg” en vir sy diens aan die Koninkryk van God.
Zevenster het beklemtoon dat hierdie nie die einde van die pad is nie. “Ons almal by Radio Tygerberg bedank jou vir jou getrouheid en gehoorsaamheid. Ons bid jou alle voorspoed en God se rykste seën toe vir hierdie nuwe fase.”
Lombard het onlangs ‘n ernstige hartaanval oorleef en getuig dat die Here hom volkome herstel en genees het.
“Ons sien met afwagting uit na wat God nog in hierdie nuwe seisoen van sy lewe gaan doen,” het Zevenster afgesluit.
LEES OOK: Radio Tygerberg ontvang vyf nominasies vir radio-toekennings





