Drie verdagtes het Maandag in die Blue Downs-landdroshof verskyn nadat ’n 31-jarige polisiebeampte Sondagoggend in Delft doodgeskiet is.
Dit is die tweede beampte wat in minder as twee weke in Delft doodgeskiet is. Konst. Shamiela Arendse is ook onlangs voor haar huis in Delft doodgeskiet.
Konst. Zuko Sima, wat Sondag doodgeskiet is, was aan die Gugulethu-polisiekantoor verbonde. Nes Arendse was die oorledene nie aan diens toe hy vermoor is nie.
Arendse het voor haar huis met vriende gesels toe sy deur onbekende mans genader en doodgeskiet is terwyl Sima in sy splinternuwe motor gesit het.
Luidens ’n polisieverklaring is hy geskiet terwyl hy in sy Volkswagen-motor gesit het. Die moordenaars het toe met die motor weggejaag.
Die motor is later in Elsiesrivier gevind en die verdagtes is in hegtenis geneem.
Past. Charles George van die Delft-gemeenskapspolisiëringsforum sê die jongste moord kom as ’n groot skok.
“Ons is nog besig om die dood van die vorige beampte te verwerk en hier gebeur dit wraggies weer. As gerugte waar is dat die beampte homself as ’n polisieman voorgestel het en steeds geskiet is, is dit ’n hartseerdag. Ek het dit onlangs gesê en ek gaan dit weer sê, daar is nie meer respek vir die polisie nie. ’n Mens kan eintlik sê dis ’n aanval teen die staat,” sê George.
Hy sê Delft is soos die Wilde Weste.
“Misdaad floreer hier en die polisie het nie die nodige hulpbronne om dit hok te slaan nie. Die gemeenskap het seker al verdubbel sedert die polisiekantoor hier geopen is; die polisie is net te min. Ek doen ’n beroep op die polisieminister om die kantoor beter te beman sodat polisiewerk effektief gedoen kan word. As dit nie gebeur nie, gaan dinge net vererger.”





