Was die koeël vir haar bedoel, of was dit vir iemand anders bedoel?
Dít is die vraag waarmee die polisie opgesaal is nadat ’n polisiebeampte wat van diens af was verlede week in Delft doodgeskiet is.
Konst. Shamielah Arendse, wat aan die Tafelbaai-hawepolisie verbonde is, is doodgeskiet toe sy saam met ander mense voor haar huis gestaan en gesels het. Twee onbekende mans het glo op die groep vriende afgestap en begin skiet. Net Arendse is getref.
TygerBurger hetmet Arendse se gebroke ma, Surita Arendse, in Ladi-smith gesels.
“My hart is stukkend omdat my dogter só moes sterf, maar my hart breek meer vir haar twee kinders wat sewe en agt jaar oud is. Hoe verduidelik jy vir kinders hul ma is dood?” vra Surita.
Past. Charles George, woordvoerder van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, sê misdaad in Delft het nou ’n vlak bereik waar daar nie eens meer respek is vir polisiebeamptes nie.
“Misdadigers gee nie meer om wie jy is nie. Jy kan ’n predikant of munisipale werker wees; hulle sal jou vermoor. Dit is ongelukkig die hartseer situasie in ons gemeenskap,” sê George.
Volgens George het moord so alledaags geword dat dit nie eens meer die gemeenskap skok nie.
“In ander plekke hardloop kinders weg as hulle skote hoor. In Delft hardloop hulle om te gaan kyk wie geskiet is. Jy sal nie glo nie, maar kinders sal saamdrom om te kyk na iemand wat op die grond dood lê. Dit is hoe ver hierdie gemeenskap al agteruit gegaan het.
“Kinders sal klippe na ’n polisievangwa gooi en niemand sal dan iets gesien het nie. Hulle vertrou of respekteer nie die polisie nie en dit is hoekom daar deesdae so baie boendoehowe is,” sê George. Teen druktyd is niemand nog in verband met Arendse se moord in hegtenis geneem nie.


