‘n Held, ’n misdaadbekamper en ’n goeie man en pa – dít is hoe die ondervoorsitter van die Delft-gemeenskapspolisiëringsforum, wat die afgelope naweek doodgeskiet is, beskryf word.

Jamiel Spannenberg is Saterdagoggend omstreeks 10:00 in Mozart-straat in Delft doodgeskiet terwyl hy brood afgelewer het. 

Hy was nie net die ondervoorsitter van die GPF nie, maar was in ’n stadium ook ’n polisiereservis.

Reginald Maart, voorsitter van die Blue Downs-polisiegroepering se GPF’s, sê hy ken Spannenberg sedert die ontstaan van Delft. “Hy was ’n misdaadbekamper in sy wese. Hy het elke dag van sy lewe daaraan gewy om vir die veiligheid van die gemeenskap rondom hom te veg. As hy brood afgelewer het, het hy altyd laat weet as hy verdagte mense in die omtrek gesien of as hy ’n misdaad waargeneem het. Hy het baie van visvang gehou en het sommer van die viswaters af ook misdaad aangemeld. Buiten sy werk vir die gemeenskap was Spannenberg baie trots op sy drie dogters. Hy het altyd met hul prestasies gespog en soms vergaderings misgeloop wanneer hy hulle gaan ondersteun het. Hy was ’n goeie pa,” sê Maart.

Maart sê hulle twyfel of die motief vir Spannenberg se moord slegs roof was. “Hulle het wel sy vuurwapen en beursie gevat, maar dit blyk nie die rede vir die moord te wees nie. Stukkies inligting kom nog in, maar dit blyk dat hy teruggeskiet en een van die aanvallers gewond het. Een van die ouens wat saam met Spannenberg gewerk het, was agter in die vragmotor en die ander reeds in die winkel waar hulle besig was om af te lewer. Toe hulle by Spannenberg kom, was hy reeds dood.

“Ons is bewus daarvan dat afleweraars in hierdie gebied ‘belasting’ moet betaal aan bendes indien hulle hier wil werk. In hierdie stadium moet dit ook vasgestel word of die moord dalk daarmee te doen het,” sê Maart.

Hy doen ’n beroep op mense met inligting oor die moord om na vore te kom en die polisie met die ondersoek by te staan.

Spannenberg is Maandag ingevolge die Moslem-tradisie begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article