Wie vir een mens ’n held is, is dalk vir iemand anders ’n misdadiger.

Dit is die geval met Jamiel Spannenberg, wat onlangs in Delft doodgeskiet is.

TygerBurger het op 17 Februarie ’n berig geplaas waarin Spannenberg, wat in ’n stadium ’n polisie-reservis was, as ’n held beskryf word.

Nadat die berig geplaas is, het William Lackay TygerBurger genader en gesê hoewel Spannenberg dalk goeie goed vir sy gemeenskap gedoen het, was hy in hul familie se oë ’n misdadiger.

“Ek is seker dat Spannenberg baie dinge in sy gemeenskap gedoen het, maar daar is ook ’n ander kant van hom wat nooit openbaar gemaak is nie. Hy het Denzil Daniels van Delft op 22 September 2012 in Victoriastraat, Kalkfontein, in die rug geskiet terwyl hy weggehardloop het,” sê Lackay.

Lackay, wie se oorlede vrou Daniels se tannie was, sê hy het nie verdien om so te sterf nie.

“Ja, Denzil was ’n tikverslaafde en het sy enkelma baie moeite en hartseer besorg. Een van die redes waarom Denzil aan dwelms verslaaf geraak het, is omdat hy maar net vier jaar oud was toe sy pa wreedaardig vermoor is, en dit het hom geknak. Op 12-jarige ouderdom is sy ouer broer Heinrich wreed in Manenberg vermoor en sy lyk in ’n parkie weggegooi. Nie een van die moordenaars in die twee sake is tot vandag toe aangekeer nie. Sy ma moes hom alleen grootmaak,” sê Lackay.

Die dag van die skietery was, volgens Lackay, ’n deurmekaarspul met Daniëls wat oproerig was en toe weggehardloop het toe die polisie na hom soek.

“Hy is uiteindelik in Kuilsrivier opgespoor en in hegtenis geneem. Spannenberg (in daardie stadium ’n reservis) en twee vroue-beamptes was besig om saam met hom na die vangwa te stap toe hy skielik omdraai en vlug. Hy en Spannenberg het op die grond beland, maar hy het weggekom. Spannenberg het twee skote afgevuur – een in die grond en een in die rug,” sê Lackay.

Volgens Lackay het Spannenberg Daniëls by verskeie vorige geleenthede al probeer aankeer, maar elke keer het hy weggekom.

“Voordat hulle Denzil gevang het, het Spannenberg gesê ‘vandag gaan ek die vark kry’. Dit is ’n bewys dat hy bedoel het om hom te skiet.

“Toe Daniëls se ma op die toneel kom, het sy Spannenberg uitgeskel en daarvan beskuldig dat hy lankal probeer het om haar seun dood te maak.

“Die saak het so lank gesloer dat Johanna, Daniëls se ma en my vrou, intussen oorlede is sonder dat hulle geregtigheid gesien het. Iemand het in April 2021 skielik hier by my huis opgedaag en gesê hy is van Opod en op soek na Barbara Lackay en Wendy Lackay, aangesien hulle gedagvaar word as getuies in die moordsaak. Ná nege jaar is die saak in die Blue Downs-streekhof hervat. Dit was absoluut traumaties om elke hofverskyning by te woon en te sien hoe Spannenberg spog met ’n Delft- gemeenskapspolisiëringsforum-masker op en lag en gesels,” sê Lackay.

Die saak is verskeie kere uitgestel en is in ’n stadium teruggetrek, maar sou weer op 17 Februarie voortgaan. Spannenberg is egter op 12 Februarie doodgeskiet.

“Ek wil nie in ’n moddergooiery betrokke raak nie, maar ek wil net dinge in perspektief stel. Ek het simpatie met die familie, maar ek dink dit was belangrik dat die publiek weet wat aangaan,” sê Spannenberg.

Reginald Maart, wat lank saam met Spannenberg in Delft gewerk het en in die oorspronklike berig aangehaal is, sê hy het gepraat oor die Spannenberg wat hy geken het.

“Ek dink wat gebeur het, was in die uitvoering van sy pligte, maar wat wie ook al nou sê, gaan niks aan die saak verander nie. Dit is hartseer na albei kante toe,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article