Onder die tema “Bellville span die seile” het die Leeus die toeskouers op ’n wonderlike seereis geneem met hul pawiljoenvertonings. TygerBurger se Nielen de Klerk het gaan uitvind hoe voorbereidings vir die MTBS 2024 gevaar het.
TEMA: Bellville: Span die Seile
PAWILJOEN-AFRIGTE: Wickus Zerwick
SEDERT WANNEER IN DIÉ ROL: 2023
HULPPERSONEEL/GEESKOMITEE: Hannelize du Plessis (musiek, ritme, liedjies), Elaine Kruger (organisasie), Helen van Lill (admin), Mari Coetzee (flash-kaarte, Excel), Andrew de Jager (tromspelers), Lehani Nel (admin) en Verena van Tonder (admin).
DIRIGENTE: Celia Gildenhuys (hoof), Zeske van der Merwe (hoof), Tia Nel, Lizelle Cronje, Pierre Badenhorst, Owen Kretschmer en Ian Opperman.
TROMSPELER: Ludwig Jeppe en Matt Krog
Hoe het julle op die tema besluit?
Ons is ’n groep lede wat saam besluit het op die tema, almal het voorleggings en foto’s gegee.
Wanneer het julle die flashes van vanjaar begin beplan? Al laas jaar in November. Sodra jy klaar maak, begin jy al dink aan flashes vir die volgende jaar.
Hoe lank oefen die kinders al?
Sedert 18 Januarie 2024, hulle het so drie weke gehad om te oefen. Hulle het in die oggend geoefen, soms in die aand en in die laaste week het ons twee of drie oefeninge per dag gehad. Twee ure van oefen, oefen, oefen. Die heeltyd. Die kinders oefen so ses ure maksimum per dag, maar die dirigente oefen nog meer. Hulle was letterlik hier by skool gewees van 07:00 tot 20:00.





