Die plaaslike kunswêreld rou oor die afsterwe van Theo Kleynhans (60), bekende kunstenaar, skrywer en dramaturg.
Kleynhans is Dinsdagoggend (13 Oktober) in Porterville oorlede nadat hy in Julie vanjaar met lewerkanker gediagnoseer is.
Op 29 Augustus het Kleynhans sy laaste openbare verskyning by die Art.b-kunsgallery in Bellville by die uitstalling, “You think you’ve got time”, gemaak.

Voor die uitstalling het Kleynhans gesê die kankerdiagnose was ’n realiteit wat hy nooit gedink het hy in die gesig sou moes staar nie, maar dat dit hom laat besef het hoe waardevol mense, vriendskappe en ondervindings asook sy eie kreatiewe reis vir hom was.
Die uitstalling wat ten bate van Kleynhans se palliatiewe sorg gehou is, wou juis hierdie vriendskappe vier en 68 kunstenaars het werke daarvoor geskenk. Ilza Roggeband het Kleynhans as ‘n spesiale mens beskryf; “talentvol, wys, snaaks, lojaal, (met) die hart van ‘n beer.” Dat soveel kunstenaars tot die uitstalling wou bydra het gewys watter impak hy op ander gehad het, het sy gesê.
LEES OOK: Theo Kleynhans en kunstenaarvriende stal in Bellville uit na kankerdiagnose
Bydrae enorm
Kleynhans word geloof vir sy bydrae tot die kunstelandskap in Suid-Afrika. Hy kon met kwas én klei tower en het ook as ’n kurator op nasionale kunstefeeste sy merk gemaak. Verder was hy ook ’n dramaturg, resensent en mentor vir kunstenaars en ander wat leiding nodig gehad het.
Volgens ‘n aanlyn biografie was hy eens ook betrokke by die kunsregie vir internasionale televisie-advertensies. Hy was onder meer Wes-Kaapse voorsitter van die South African National Association for Artists, ‘n vryskut kunsresensent vir Die Burger en voorsitter van die Bellville-kunsvereniging (art.b). Buiten internasionale en plaaslike uitstallings is sy werk in vele private en openbare versamelings in Suid-Afrika en in die buiteland opgeneem.
Verskeie dramas en gedigte het ook uit sy pen verskyn.
LEES OOK: Beloved wife of musician David Kramer dies unexpectedly






You must be logged in to post a comment.