Jong kankerlyer van Monte Vista bedank publiek vir hul ondersteuning

Chánterie van Rensburg
Chánterie van Rensburg

Jong kankerlyer van Monte Vista bedank publiek vir hul ondersteuning


Die gesin van Chánterie van Rensburg (12), ‘n jong kankerlyer van Monte Vista, sê hulle is dankbaar vir al die ondersteuning wat hulle sedert haar diagnose in Januarie vanjaar van familie, vriende, haar skoolgemeenskap, ander skole en die publiek ontvang het.

Rabdomiosarkoom-kanker (RMS), ‘n seldsame sagte-weefsel kanker, is by Chánterie gediagnoseer.

Chánterie se ma, Clarissa, het aan TygerBurger gesê dié graad 7-leerder se chemoterapie- en bestraling-sessies is afgehandel. Hulle het verlede Woensdag ná haar PET-skandering (positron emission tomography) gehoor die skandering is skoon en geen teken van aktiewe kanker bestaan meer nie. “Dis ‘n wonderwerk; dis ‘n absolute wonderwerk,” sê haar ma.

Chánterie is intussen terug by die skool. “Ons kan net getuig van ongelooflike gemeenskap, en ongelooflike mense wat saam met ons gebid het,” sê Clarissa. Verskeie gemeenskappe en skole het Chánterie die afgelope agt maande in haar stryd gesteun. Clarissa meen dié ondersteuning was ‘n ongelooflike ervaring en sê die gesin het nie woorde om dit te beskryf nie. “Dit was so ‘n moeilike tyd, maar ook so ‘n geseënde tyd.”

Die Laerskool Panorama, waar Chánterie die hoofmeisie is, het verlede week ‘n video op hul sosialemediablad gedeel, waarin Chánterie haar ondersteuners bedank.

Clarissa sê die feit dat Chánterie in remissie is, is vir hulle as gesin moeilik om in woorde te beskryf.

“Toe ons op 27 Augustus gehoor het Chánterie se PET-skandering is skoon en [die kanker] is in remissie , was dit die nuus waarvoor ons sedert Januarie gebid het. Ons het daardie dag ‘n ongelooflike mengsel emosies ervaar. Ons lewe het op 6 Januarie binne ‘n paar uur heeltemal verander. Van ‘n gesonde, aktiewe 12-jarige meisie is Chánterie skielik met erge rugpyn [in die hospitaal] opgeneem en kon sy later skaars loop. ‘n Paar dae later het ons onsself in ‘n wêreld van kanker, operasies, chemoterapie en hospitale bevind.

“Om haar nou weer te sien skoolgaan en aktief aan skoolaktiwiteite deel te neem, is vir ons onbeskryflik kosbaar. Dinge wat voorheen so normaal was, voel nou soos ‘n groot voorreg en seëning. Ons weet die pad is nog nie heeltemal verby nie. Sy begin nou met onderhoudsbehandeling in die vorm van daaglikse chemo-medikasie, wat sy vir die volgende jaar sal gebruik, en haar dokters sal haar baie noukeurig monitor.

“Maar vandag is [die kanker] in remissie, en daarvoor is ons ongelooflik dankbaar,” sê Clarissa.

Dr. Johann Riedemann by die Mediclinic Cape Gate-hospitaal is haar onkoloog.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir Chánterie se dokters, verpleegpersoneel en almal wat haar behandel het, maar ook vir elke mens wat saam met ons gebid en hierdie pad saam met ons gestap het. As ons een boodskap aan ‘n ander gesin kon gee wat vandag aan die begin van ‘n kankerpad staan, sou dit wees: ‘Moenie hoop verloor nie.’

“Agt maande gelede het ons langs ‘n hospitaalbed gestaan en gewonder hoe ons ooit deur alles gaan kom. Vandag kyk ons hoe ons dogter weer skool toe gaan, saam met haar maats lag en op ‘n hokkieveld hardloop. Vir ons is elke gewone dag nou ‘n geskenk.”

Lees die volledige berig op Woensdag 16 September in TygerBurger.

LEES OOK: Twee Cape Epic-ryers vereer Monte Vista-kankerlyer (12)

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article