Persone wat aan kanker gely het, of dalk steeds ‘n stryd teen dié siekte voer, hul gesinne, families en vriende word uitgenooi om deel te neem aan vanjaar se Kanker-oorwinnaarsdag, oftewel Pacso Survivor’s Day.
Die dag word gereël deur dr. Elre Gerber van die Panorama Centre for Surgical Oncology (Pacso) by die Mediclinic Panorama-hospitaal in Kaapstad se noordelike voorstede en word vanjaar vir die ‘n tweede keer aangebied.
Gerber sê die dag handel oor alle kanker-pasiënte, maar ook die persone wat die pad saam met die pasiënt stap.
“Met die Pacso Survivors Day vier ons elke kankerpasiënt se lewe. Wat spesiaal bydra tot die dag is dat ons ons pasiënte se naasbestaandes ook nooi. ‘n Familielid, ‘n vriend, ‘n versorger. So vier ons ook graag die stil helde wat die moeilike pad saam met ons pasiënte stap.
“Ons vier lewenskragtigheid, aanpasbaarheid, veerkragtigheid, deernis en oorwinnings op meer as een gebied. Ons deel praktiese raad oor die aanpassing wat ons pasiënte nodig het, psigies en fisies, wanneer hulle ná behandeling weer voortgaan in die gewone loop van die lewe. Dis ‘n dag waar pasiënte mekaar se stories aanhoor, mekaar inspireer en waar praktiese raad gedeel word,” sê Gerber.
Gassprekers
Die dag hou besondere sprekers in, onder andere welbekende onkoloog, dr. Lizanne Langenhoven, Eilat Aviram, ‘n gerekende sielkundige en skrywer, en drie kanker-oorlewendes – Lori- Ann Biebuyck, Nicola Hooper en Vera Nagtegaal.
“Ons gaan ook in sessies opdeel waar ons die wat deelneem die geleentheid gee om hulle stories te deel. Verlede jaar het dit baie vir soveel van ons pasiënte en hul families beteken. Tydens hierdie sessies, bemoedig die wat in dieselfde diep waters swem, mekaar en dit dra soveel krag.
“Ons sluit dan die dag af met ‘n vraag-en-antwoord sessie waar die deelnemers vir die dag vrae aan ‘n paneel kundiges kan stel,” sê Gerber.
Die geleentheid word beplan vir Saterdag 16 Mei en vind by die Die Bron-teater in Willowbridge van 08:00 tot 13:00 plaas. “Ons sien uit, ons is opgewonde en weet hierdie dag gaan weer iets besonders wees,” sê Gerber.
Kaartjies vir die geleentheid kos R200 per persoon en is by iTickets beskikbaar.
LEES OOK: Twee Cape Epic-ryers vereer Monte Vista-kankerlyer (12)





