Afgetrede polisie-tweeling durf 60 km in 12 ure aan om eer te bewys aan dapper kankerstryders

Die avonturiers Bouwer en Laurentius Schoonwinkel.
Die avonturiers Bouwer en Laurentius Schoonwinkel.

Afgetrede polisie-tweeling durf 60 km in 12 ure aan om eer te bewys aan dapper kankerstryders


Sommiges oorwin kanker en gaan in remissie, en dan is daar die dapper stryders wat baklei en die stryd verloor, en soos hulle in die Strandveld sê, “onder hul sandkombers gaan rus”.

Dis vir dié dapper stryders dat identiese tweelingbroers, afgetrede polisiemanne van Kaapstad, sal poog om binne 12 ure die sowat 65 km tussen Hermanus en Pearly Beach te voet aan te durf in die Wes-Kaap se skilderagtige Overstrand.

Die alombekende avonturiers Bouwer en Laurentius Schoonwinkel (60) vetrek op Saterdagoggend 10 Oktober om 05:00 van die Overstrand-hospies se nuwe perseel in Hermanus om padlangs teen 17:00 by die eindpunt in Pearly Beach te kom.

Die wind van voor

Om die kragtog te vermag sal die broers aanhoudend moet stap teen ‘n pas van 5km per uur. Vir meeste van ons klink die uitdaging onmoontlik, maar vir die twee veteraanstappers wat al 70 strawwe polisie-vasbyte voltooi het, is dit haalbaar al gaan die weer nie saamspeel nie.

Tussen hulle stap die twee vasbyters sowat 5 000 km per jaar. Oor die dekades heen het hulle veral bekend geraak vir hul strawwe voetreise deur die lengte en breedte van Namibië.

Estelle van Dyk is geken as die Overberg se ystervrou
Estelle van Dyk is geken as die Overberg se ystervrou.

“Ons grootste uitdaging gaan die wind van voor wees, maar die reën is oraait,” sê Laurentius. “Ons sal net kan stop vir water en ‘n vinnige snackie uit die ondersteuningsvoertuig wat saamry.”

LEES OOK: Tygerberg-kinderkoor wen internasionale kompetisie by Sun City

Die staproete sal hulle deur die pragtige kus- en plattelandse dorpies Stanford, Gansbaai en Franskraal neem.

“Ons het altyd ‘n groot liefde gehad vir stap en om deur Suid-Afrika en Namibië te toer. Ons glo ook vas dat ‘n mens iets moet teruggee aan die gemeenskap, en dit is presies wat ons probeer doen. Kanker bring mense bymekaar, daar is niemand wat nie iemand ken wat deur kanker aangeraak is nie. En wanneer iemand wat ons liefhet hierdie nuus ontvang, besef ons hoe kosbaar die lewe is,” sê Bouwer.

“Ons inspirasie het nader aan die huis begin toe ons buurvrou Tersia so dapper teen hierdie wrede siekte geveg het. Haar moed het ons diep geraak en ons aangedryf om iets sinvol te doen vir ‘n saak wat so baie mense se lewe raak,” sê Laurentius.

Kuslangs vir kanker

Met hul eerste Kuslangs vir Kanker-tog verlede jaar het hulle die vier dae lange Lighuis-na-Lighuis-stap oor 104 km tussen tussen L’Agulhas na Dangerpoint in Gansbaai aangepak.

“Toe ek lees van die Lighuis na Lighuis-stap vir die Overstrand, was ek baie geïnteresseerd, net om uit te vind dis net vir dames. Ons reël toe maar ons eie stap.”

LEES OOK: Tweeling van Brackenfell stap vir rieldansers in Wuppertal

Die roete neem stappers deur sekerlik een van die mees ongerepte gedeeltes van die Kaapse kuslyn, waar meer as 100 skepe al vergaan het.

Gert van Dyk (69) wat saam met die tweeling geoefen het, sal die pad saam met hulle aandurf.
Gert van Dyk (69) wat saam met die tweeling geoefen het, sal die pad saam met hulle aandurf.

“Die natuurskoon was asemrowend en die mense wat ons langs die pad ontmoet het, was net so besonders. Skenkings het ingestroom van oral, groot en klein, en ons het daarin geslaag om net meer as R60 000 in te samel vir die Overstrand- hospies, alles te danke aan goedhartige mense. Daar was skenkers uit Amerika, Australië, Namibië, Angola en van oor Suid-Afrika heen. Dit was ‘n groot inspirasie, veral omdat soveel mense ons moreel ondersteun en blyplek aangebied het.”

Hoop leef waar mense saamstaan

Dié Overberg hospies bedien sedert 2007 die hele Overstrand-subdistrik van Pearly Beach tot by Rooiels. Dis ‘n selfonderhoudende, nie-winsgewende organisasie wat geheel en al staatmaak op die vrygewigheid van skenkers, op die inkomste uit hul winkel en op fondsinsamelingsprojekte om hul dienste vol te hou, wat gratis aan pasiënte en hul gesinne verleen word.

Ons vra dat die gemeenskap van die Overstrand en Overberg ons sal ondersteun. Elke druppel in die emmer help. Daar is altyd hoop, en waar daar hoop is, is daar lewe.

Geld wat ingesamel word sal weer vanjaar aan die organisasie geskenk word. “Ons vra dat die gemeenskap van die Overstrand en Overberg ons sal ondersteun. Elke druppel in die emmer help. Daar is altyd hoop, en waar daar hoop is, is daar lewe.”

Vanjaar se reis dra hulle op aan Estelle van Dyk wat verlede jaar haar eie stryd teen die gevreesde siekte verloor het.

Estelle is geken as die Overberg se ystervrou wat met haar eie stapavonture ‘n groot verskil gemaak het in die lewe van droogtegeteisterde boere en hul gesinne. Haar man, Gert, wat saam met die broers geoefen het, sal die pad saam met hulle aandurf.

Om ‘n bydrae te maak of looitjie te koop bel Bouwer by 084 206 6201 of Laurentius by 083 320 4283.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article