Innoverende boereplanne in kollig by Nampo Kaap 2026 in Bredasdorp

Pieter du Toit van Bredasdorp se reuse-"poop scoop" het die koppe laat draai.
Pieter du Toit van Bredasdorp se reuse-“poop scoop” het die koppe laat draai.

Innoverende boereplanne in kollig by Nampo Kaap 2026 in Bredasdorp


‘n Boer maak ‘n plan en met dié slim en innoverende planne kan boere (en ook ander innoveerders) hul staal in ‘n kompetisie by die 2026 Nampo Kaap-ekspo wys.

Die Nampo Kaap 2026 vind van 9 tot 12 September in Bredasdorp plaas.

Graan SA nooi weer weer boere, uitvinders, leerders, studente en tegnologie-entoesiaste om praktiese idees in te skryf wat alledaagse werk op plase, in werkswinkels en rondom die huis eenvoudiger, veiliger, doeltreffender of meer bekostigbaar maak.

Die Boereplanne-kompetisie het verlede jaar 32 inskrywings ontvang.

Dra by tot veerkragtige landbousektor

“Die Boereplanne-kompetisie wys jaar ná jaar dat innovasie nie altyd ingewikkeld of duur hoef te wees nie. Dit begin dikwels met ’n praktiese probleem en iemand wat besluit dat daar ’n beter manier móét wees,” sê dr. Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo.

Henri Beyer en Louis Metcalf van Riviersonderend het verlede jaar beïndruk het hul sementmenger-laaigraaf.
Henri Beyer en Louis Metcalf van Riviersonderend het verlede jaar beïndruk het hul sementmenger-laaigraaf.

“Deur hierdie oplossings te deel, lewer deelnemers nie net ’n bydrae tot hul eie bedrywighede nie, maar ook tot ’n meer vindingryke, doeltreffende en veerkragtige landbousektor,” sê hy.

Nuwe idees

“Produsente moet nie net van nuwe tegnologie hoor nie; hulle het geleenthede nodig om met oplossings kennis te maak, die ekonomie daaragter te verstaan en te bepaal of dit onder plaaslike produksietoestande kan werk.

“Nampo Kaap skep daardie ontmoetingspunt tussen landbou-uitdagings, praktiese ervaring en nuwe idees. Of dit nou ’n gesofistikeerde waterbestuurstelsel of ’n boer se eie oplossing vir ’n alledaagse probleem is, innovasie word waardevol wanneer dit die manier waarop produsente funksioneer, verbeter,” sê Strydom.

Die Pionierskool vir siggestremdes op Worcester het drie uitvindsels ingeskryf .
Die Pionierskool vir siggestremdes op Worcester het drie uitvindsels ingeskryf — ‘n dreineringspyp om reënwater uit konynhokke te hou, ‘n langhandvatselskoppie om konyne se mis uit sand te sif, en ‘n aangepaste konynvoerbak. Hier is onderwysers van die skool, (van links) Madeline Kriel, Michael Bredenkamp (skoolhoof) en Erno Wepener.

Agt afdelings

Inskrywings sal in agt afdelings beoordeel word:

  • Nuut: oorspronklike landboutoerusting en digitale tegnologie;
  • Gemodifiseerd: aangepaste implemente en sagteware;
  • Gereedskap: elektriese en nie-elektriese gereedskap;
  • Huis en tuin: praktiese huishoudelike oplossings;
  • Ope afdeling: kostedoeltreffende idees met ’n waarde van minder as R5 000;
  • Skole-afdeling: inskrywings van leerderse en studente;
  • Kommersiële afdeling: produkte of planne wat reeds bemark word;
  • Video-afdeling: uitvindings wat nie fisiek uitgestal kan word nie.

Prysuitdeling

Inskrywings vir die kommersiële en video-afdelings moet teen Donderdag 20 Augustus ontvang word, terwyl inskrywings vir die ander afdelings op Dinsdag 1 September sluit.

Alle inskrywings moet op die amptelike inskrywingsvorm ingedien word.

Fisiese inskrywings moet teen 14:00 op Dinsdag 8 September by die Boereplanne-uitstalarea by standplaas E8 afgelewer word.

Beoordeling vind op Woensdag 9 September plaas en die prysuitdeling word op Vrydag 11 September om 12:00 gehou.

esoekers aan 2026 Nampo Kaap sal die inskrywings by die Boereplanne-standplaas langs die uitstalruimte van die prysborg, Omnia Nutriology, kan besigtig.

Die wenners sal op Landbouweekblad se platforms en die borge se sosialemediakanale aangekondig word. Die wenner van die kommersiële afdeling sal ook ’n uitstalruimte by Nampo Kaap 2027 ontvang.

Kaartjies vir Nampo Kaap 2026 is aanlyn beskikbaar by www.opentickets.co.za. Kaartjies is nie dagspesifiek nie en kan op enige van die vier dae gebruik word.

  • Kontak Wim Venter by wim@grainsa.co.za of 086 004 7246 met navrae oor inskrywings.

LEES OOK: Kom leer meer oor beskermde landbou by Nampo Kaap in September

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article