Die toekoms van ‘n data-sentrum van miljoene rande is nou in die hande van die Stad Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis.
Kaapse planne
Equinix beplan om data-sentrums van R7,5 miljard in Suid-Afrika te bou, maar hul planne in Kaapstad is onlangs in die wiele gery toe verskeie organisasies daarin geslaag het om te appeleer teen die Stad Kaapstad se Munisipale Beplanningstribunaal se besluit om gebruiksregte in die King Air-industriële gebied toe te staan.
LEES OOK: City approves data centre plan at King David Country Club
Vir die organisasies bestaan daar kommer dat die Equinix nie bekendgemaak het hoeveel water en krag hulle sal benodig nie.
Hill-Lewis tree op as die Stad appel-gesag en hy moet besluit of die Equinix gebruiksregte toegestaan moet word. Hy het 90 dae om hierdie besluit te neem en intussen wag organisasies, soos die Housing Assembly, in spanning om te hoor wat hy gaan besluit.
Wag op besluit
Feziwe Sigqumo, ondervoorsitter van die Housing Assembly, een van die organisasies gekant teen die oprigting van data-sentrums, sê hulle wag op Hill-Lewis se besluit, maar wat dit ook al mag wees, die geveg eindig nie hier nie. “Ons is bly dat die appel aangehoor word en wag op die uitslag, maar baie van ons vrae is onbeantwoord. Ons het onlangs van beurtkrag herstel, maar hier word krag-intensiewe sentrums opgerig. Ons het Dag Zero gehad met waterskaarstes, maar hier word sentrums gebou wat watersekerheid kan bedreig. Wie gaan betaal vir al hierdie bedreigings?” wil Sigqumo weet.
Volgens haar kan die behoeftes van die mense nie ondergeskik wees aan die behoeftes van groot ondernemings nie. “Baie van ons mense het nie toegang tot basiese geriewe nie en tot dat ons daardie vlak bereik het, kan ons nie rus nie,” sê sy.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Menseregte-kommissie op sy Facebook-blad aangekondig dat hy byna 300 versoeke van 26 organisasies ontvang het en gaan hulle hul eie ondersoek na prima facie menseregte skendings doen.
LEES OOK: Cape Town’s N2 ‘Hell Run’ wall becomes election flashpoint



