Die burgemeester van die Stad Kaapstad, Geordin Hill-Lewis gaan Maandag ‘n groot aankondiging oor meer magte vir die Stad se metropolisie doen.
Luidens ‘n verklaring deur Hill-Lewis se woordvoerder, Lyndon Khan, gaan hy Maandag in Bishop Lavis uitbrei oor die Stad se planne. Saam met Hill-Lewis gaan JP Smith, burgermeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid en Mzwakhe Nqavashe, voorsitter van die stadsraad se veiligheid-en sekerheidsportfolio-komitee wees.
Ondersoekende magte
“Na uitgebreide gesprekke met die waarnemende polisieminister en sy voorgangers, het die Stad besluit om ‘n senior advokaat aan te stel om die ondersoekende magte vir die metropolisie te bespoedig. Die burgermeester sal nou die Stad se strategie uiteensit wat daartoe kan lei dat die metropolisie hierdie magte binne maande kan bekom,” sê Khan.
Tans vind die metropolisie dwelms of vuurwapens, neem verdagtes in hegtenis en handig die sake aan die polisie oor, net vir die regstelsel om nie ‘n skuldigbevinding te bewerkstellig nie. “Dit forseer die wetstoepassers om dieselfde oortreders oor en oor te vang, weens die lae skuldigbevindings van vuurwapen-en dwelm-verdagtes,” sê Khan.
Hill-Lewis sê gemeenskappe hoef nie in daaglikse vrees te lewe nie. “Die tyd het gekom om misdadigers te vang en skuldig te bevind,” sê hy.
Die aankondiging word Maandag omstreeks 11:00 by die LEAP-basis in Bishop Lavis gemaak.
Posisies nie gevul nie
Intussen het hy gesê poste in die polisie word geskuif of vakante posisies word net nie weer gevul nie, dit is hoekom Kaapstad amper 3 000 minder polisie-beamptes as vantevore het.
Hoe meer metropolisie-beampyes die Stad aanstel, hoe minder polisie-poste word gevul. “Ons het die afleiding gemaak dat meer stewels op die grond nie noodwendig die situasie verbeter nie. Die metro kan dit nie bekostig nie,” sê hy.
Hill-Lewis het gereageer op ‘n raadslid se vraag oor Kaapstad wat nou as die sewentiende gevaarlikste Stad in die wêreld gereken word.
LEES OOK: Gesuipte bestuurder ry skoolkinders aan





