’n Tiener van Kuilsrivier is een van 34 jong musici landwyd wat gekeur is vir deelname aan die Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie in September. Die kompetisie, wat deur die Tygerberg-tak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (Savmo) aangebied word, is die enigste in sy soort vir deelnemers 13 jaar en jonger.

Sestien van die kandidate wat suksesvol oudisies afgelê het, kom van die Wes-Kaap, vyftien van Gauteng, twee van KwaZulu-Natal en een van Namibië.

Faith Boer (13), ’n gr. 7-leerder aan die Laerskool Mikro, sal die enigste deelnemer wees wat die klarinet bespeel. Die meerderheid (20) speel klavier, vyf viool, vier tjello, twee fluit, en dan is daar ook een saksofoon en een harpspeler.

Faith het in gr. 2 (2017) begin met klarinet-lesse by Charlene Saayman by die Hugo Lambrechts-musieksentrum. Sy het verlede jaar ook ’n oudisie vir die Hubert van der Spuy-kompetisie afgelê, maar nie deurgedring nie.

Haar tweede instrument is klavier. Sy het verlede jaar met klavierlesse begin, ook by Hugo Lambrechts onder Carike Byker, wat haar (en baie van die ander deelnemers) gaan begelei wanneer sy in die kompetisie gaan speel.

Prestasies

Faith het al aan ’n hele paar kompetisies en eisteddfods deelgeneem. By die Stellenbosch-eisteddfod verlede jaar wat virtueel plaasgevind het, het sy cum laude (bo 90% ) vir haar klarinetspel behaal.

In die komende maande sal sy ook aan die Johann Vos-musiekkompetisie en die Mini Maestro-kompetisie vir laerskool-leerders deelneem.

Faith het ook ’n kop vir syfers. TygerBurger het in Junie berig toe sy die top-100 gehaal het in die Horison-wiskundekompetisie vir gr. 5-, 6- en 7-leerders. Vanuit 21 433 leerders van 158 verskillende deelnemende skole het Faith die 90ste posisie behaal. Sy en haar jonger sussie Zoë het ook al presteer in redenaarskompetisies met albei wat nasionaal in die top-3 van hul afdelings was in die Podiumpret-kompetisie in 2019.

Gevra oor ander belangstellings buiten musiek en wiskunde, skud Faith eers haar kop in ontkenning.

Haar ma, dr. Nazli Boer, sê Faith het vroeër netbal gespeel, maar vanjaar het dit met die klarinet-lesse gebots.

Faith neem wel nog deel aan redenaars, en sy lees baie graag.

Volgende jaar gaan sy na die Hoër Meisieskool Bloemhof. Sy sal graag voortgaan met musiek, maar dink nie sy sal dit ’n loopbaan maak nie. Oor wat sy eendag gaan studeer is sy nog nie seker nie. Dalk medies soos beide haar ouers, of ”miskien eerder rekeningkunde’’, sê haar ma. Gelukkig is daar nog tyd om te besluit.

Vir nou word hard voorberei vir die musiekkompetisies.

Faith sê daar is verskeie afdelings soos barok of romanties, klassieke en Suid-Afrikaanse komposisies. “Ek dink daar is vyf of ses stukke wat ek sal moet speel. Gewoonlik in ronde een, mag jy byvoorbeeld net klassiek, barok of ’n moderne stuk speel. Jy kan nie net enige stuk speel nie.”

Hoë standaard

Volgens ’n verklaring van die organiseerders verlang die strawwe kompetisie-program by die Hubert van der Spuy-kompetisie van die deelnemers om deurgaans ’n hoë standaard te handhaaf.

Die kompetisie bied aan die deelnemers ’n platform om waardevolle ervaring deur optredes op te doen. Dit poog om ’n omgewing te skep waar onderwysers, leerders en ouers idees kan deel en mekaar kan ondersteun.

Hilda Boonzaaier, voorsitter van Savmo Tygerberg, sê dit was verblydend om die goeie gehalte werk van reg oor die land tydens die aanlyn oudisies te kon hoor. “Ons salueer die onderwysers, leerders en ouers vir hul insette, harde werk en aanmoediging. Ons sien uit na ons 33ste kompetisie van 26 tot 30 September.”

Die kompetisie vind in die Hugo Lambrechts-ouditorium in Parow plaas. Die kwalifiserende rondes sal oop wees vir die publiek. Kaartjies sal by die deure of aanlyn gekoop kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article