Vir baie bejaardes by Klaradyn Aftree-oord in Brackenfell is die dae lank en die stilte swaar, veral vir dié wat hul lewensmaats verloor het en die meeste van hul dae alleen deurbring.
Maar danksy ‘n geskenk van ‘n plaaslike onderneming, is daar nou ‘n nuwe rede om die voordeur oop te maak. ‘n Buitelugse skaakbord is onlangs by ‘n gesellige byeenkoms aan inwoners bekendgestel. Vir dié inwoners wat van ouds af lief is vir skaak, was daar groot opgewondenheid.
Pieter Myburgh van die Klaradyn Huiseienaarsvereniging sê die doel van dié buitelug aktiwiteit is om isolasie te bekamp.
Dit is nie inspannend nie en hou jou brein en jou spiere aan die gang.
“Baie van ons inwoners bring die grootste deel van die dag alleen in hulle woonstelle deur. Die skaakbord gee hulle ‘n rede om uit te gaan, te gesels en weer deel van ‘n gemeenskap te voel,” sê hy.
“Hoe aktiewer die inwoners is, hoe gesonder is hulle, geestelik en fisiek. Dit is ‘n wonderlike geleentheid vir dié inwoners wat minder aktief is om mekaar te leer ken. Dit is nie inspannend nie en hou jou brein en jou spiere aan die gang. As jy uit jou huis uitkom, voel jy sommer beter,” sê hy. “Skaak vra nie veel van ‘n mens nie, net ‘n rustige middag en iemand aan die ander kant van die bord.”
LEES OOK: Rys en vleis is besonders, maar pampoentert vat die koek
Die oord se sosiale klub beplan ook om skaakopleiding aan te bied vir diegene wat die spel wil leer en om skaakdae aan te bied.





