Volgens die slagoffer het die rowers omstreeks 03:00 die oggend toegang tot die woning verkry.
Volgens die slagoffer het die rowers omstreeks 03:00 die oggend toegang tot die woning verkry.

Brackenfell-vrou praat oor traumatiese nagtelike rooftog

Volgens die slagoffer het die rowers omstreeks 03:00 die oggend toegang tot die woning verkry.
Volgens die slagoffer het die rowers omstreeks 03:00 die oggend toegang tot die woning verkry.

“Ons het wakker geword met drie groot mans in donker klere en met balaklavas rondom ons bed.” So vertel ‘n inwoner van Brackenfell oor die nagmerrie-huisroof wat verlede Dinsdagnag (6 Oktober) in ‘n sekuriteitskompleks in Protea Village, afgespeel het.

Volgens die slagoffer het die rowers omstreeks 03:00 die oggend geruisloos toegang tot die woning verkry deur ‘n vensterraam te verwyder.

“Hulle het saggies by die huis ingekom, die slaapkamer binnegesluip en om ons bed kom staan voordat hulle die lig aangesit het om ons wakker te maak,” onthou sy.

Die skok was onmiddellik en intens. “Een het ‘n skroewedraaier oor my lyf gehou en ‘n ander een ‘n koevoet oor my man. Al sou daar ‘n paniekknoppie reg langs my bed wees, sou ek dit nie kon druk nie.”

Hulle was baie stil en in volkome beheer van die situasie.

In die kamer langsaan het hul jong kind onwetend deur die hele drama geslaap. “Genadiglik het hulle besluit om net haar kamerdeur toe te trek.”

Die koue berekening van die aanvallers het die slagoffers geruk. “Hulle was baie stil en in volkome beheer van die situasie. Dit het gevoel of hulle al die tyd in die wêreld het omdat hulle so kalm, gekoördineerd en geoefend opgetree het.”

LEES OOK: Meer ernstige gevalle van roof en diefstal vanuit voertuie in Kuilsrivier wys jongste misdaadsyfers

Die rowers het die egpaar se hande agter hul rûe vasgebind en hul voete met hul eie serpe en kamerjastoue vasgemaak. Daarna het hulle die huis stelselmatig geplunder. Trouringe, selfone, bankkaarte, die televisie, skootrekenaars en enigiets van waarde waarop hulle hul hande kon lê, is weggedra.

‘n Helse uur en ‘n half

Die trauma het egter nie daar geëindig nie. “Hulle het my met ’n koevoet teen my keel gedwing om die fone te ontsluit, sekuriteitswagwoorde te verwyder en ons selfoonnommers, banktoepassings en pinkodes neer te skryf. Ek moes dit alles doen met my hande styf agter my rug vasgebind.”

“Die een man het deurentyd gevra, ‘Where is the money? Where are the jewels?’ Elke keer as ek sê ons het nie en dat ons nie ryk mense is nie, het hy met die koevoet teen my nek bly vra, ‘Why are you lying?’ Hulle het my op my sy gedraai sodat ek nie my man agter my kon sien nie.”

LEES OOK: Misdaadsyfer in Wes-Kaap daal, maar meer as 1000 sterf steeds

Na ‘n helse uur en ’n half in die huis is die vrou losgemaak, na haar dogtertjie se kamer geneem en weer daar vasgebind. Die rowers het gedreig dat een van hulle in die huis sou agterbly om te verseker dat die pin- en selfoonkodes korrek is.

“Na ’n rukkie, toe dit heeltemal stil word, het ek die kans gewaag. Ek het die venster met my hande steeds agter my rug vasgemaak oopgekry en uitgeskreeu vir hulp.”

Ons moet mekaar ondersteun en weet wat in ons omgewing aangaan. Ons móét saamstaan om die nodige hulp te kry sodat ons waarlik veilig in ons eie huise kan wees.

Hoewel die gesin ongedeerd uit die voorval gekom het, lê die sielkundige letsels diep. “Genadiglik is ons nie fisiek beseer nie, maar enigiets kon fout gegaan het, ‘n kind wat wakker word, of ‘n verkeerde antwoord.”

Na hierdie traumatiese ervaring wou sy haar storie deel om bewusmaking te skep. Sy maan die Brackenfell-gemeenskap aan om paraat te wees.

“Ons leef dikwels in die waan dat ons veilig is en dat so iets nie met ons sal gebeur nie,” sê sy met erns. “Mense moet praat as so iets met hulle gebeur, moenie stilbly nie. Deel dit op julle buurtwag- en WhatsApp-groepe en hou die druk op die polisie vol sodat hulle nie die ondersoek laat vaar voordat die skuldiges agter tralies is nie.”

Haar pleidooi aan die gemeenskap is een van eenheid. “Ons moet mekaar ondersteun en weet wat in ons omgewing aangaan. Ons móét saamstaan om die nodige hulp te kry sodat ons waarlik veilig in ons eie huise kan wees.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article