‘n Vermindering in die aantal moorde in die Wes-Kaap is goed, maar meer as 1000 mense is tussen April en Junie vanjaar in die provinsie doodgemaak.
11 sterf elke dag
Hoewel 77 minder mense in die provinsie gedood is, word 11 mense steeds elke dag om die lewe gebring, met Kaapstad wat tien polisiestasies onder die top tien vir moorde in die provinsie het.
Die Wes-Kaapse polisiehoof, Lt.genl. Sizakhele Dyantyi, Wes-Kaapse polisiehoof, sê hoewel daar ‘n daling in algehele misdaad is, bly die moordsyfer onaanvaarbaar hoog. “Die uitvoering van intelligensie-gedrewe operasies gaan voortaan aan die orde van die dag wees, terwyl ons onwettige vuurwapens en ammunisie teiken wat agter die moorde, pogings tot moord en rooftogte sit,” sê Dyantyi en beklemtoon dat dit ‘n prioriteit gaan wees.
‘n Verlaging van 6,7% in moorde en 6,3% in kontakmisdadebring bring ‘n sprankie hoop vir die provinsie, maar ‘n onrusbarende styging in verkragting en ontvoerings laat die prentjie donker lyk.
Mfuleni-polisiestasie blyk die probleem in die provinsie te wees, met die meeste moorde en verkragting daar aangemeld is. Vir seksuele oortredings is hulle vierdie nasionaal.
Migrasie
Frans Mashaba, voorsitter van die Mfuleni-gemeenskapspoliërigsforum, skryf die hoë misdaadsyfer in die omgewing toe aan migrasie. “As die bevolking van Mfuleni nie aanhou groei nie, sal die polisie dalk misdaad onder beheer kan bring. Ek kan getuig dat die polisie hul bes probeer, maar hulle kan nie byhou met die groei nie,” sê Mashaba.
Volgens hom veroorsaak die invloei van mense van oral struwelinge in die gebied, wat tot geweld lei. “Mense regoor die land en die Wes-Kaap sak op Mfuleni toe, maar die aantal polisielede word nie meer nie. Hul werklas raak net meerder en dit is nie volhoubaar nie. Armoede lei ook daartoe dat inwoners hul huise aan buitelanders verhuur, wat dan lei tot afpersing. As hier minder ontwikkeling is sal ons nie meer mense kry nie en dan sal die polisie hul werk behoorlik kan doen,” sê hy.
Hy sê meer beamptes by die stasie sal verwelkom word.
LEES OOK: Mfuleni weer bo met getal moorde in die afgelope kwartaal





