Die bejaarde vrou is van al haar spaargeld beroof.
`n Bejaarde vrou is van al haar spaargeld beroof. Credit: Roshe Taka Credit: Roshe Taka

‘n Bejaarde vrou het in ‘n gewetenlose swendelaar se skelm strik getrap toe sy onlangs haar inkopies gaan doen het.

Die 76-jarige vrou was sowat twee weke gelede doenig tussen die rakke by die Pick n Pay Hipermark in Brackenfell, toe die wildvreemde man haar genader het.

‘Gelukkige’ wenner

Hy het hom voorgedoen as ‘n werker van ‘n bekende suiwelprodusent, en die vrou oorreed om te glo sy het ‘n prys van R600 000 gewen.

Volgens die vrou se dogter moes haar ma toe by die Lindt-sjokoladerak ‘n plak sjokolade kies. “Die ‘een’ wat sy gekies het, het ‘n Koningin van Harte-kaart agter gehad, wat sou aandui dat sy die gelukkige wenner is.

Sy kon haar winkeltrollie vol pak met van die sjokolade, en ander koue produkte,” het sy aan TygerBurger vertel op voorwaarde van anonimiteit.

“Die man het my ma oortuig om van haar eie kontant by te voeg, wat dan ‘verdubbel’ sou word as deel van die prys wat sy gewen het. Hy het saam met haar na die Capitec-OTM gestap om die limiet op haar bankrekening te verhoog en geld is in vier transaksies van R5 000 elk onttrek,” sê sy. “Hy het die kontant uit haar hand gegryp om dit vir haar ‘veilig’ te bewaar. Hierna is hulle na ‘n ander winkel, waar sy kamtig weer ‘n trollie vol vleis ‘gewen’ het. Terwyl sy besig was om die vleis in die trollie te laai, het die misdadiger met haar kontant verdwyn. Dis toe dat sy besef het sy is beroof van al haar spaargeld.”

LEES OOK: TygerBurger | Brackenfell | E-edition | 01 April 2026

“My moeder besoek al die afgelope 40 jaar die winkelsentrum en het nog altyd veilig en onafhanklik gevoel. Hierdie voorval was uiters traumaties vir haar en buiten die finansiële verlies, het haar goedgelowigheid in die mensdom haar duur te staan gekom.”

Polisie ondersoek saak van roof

By monde van ‘n woordvoerder het Pick n Pay se hoofkantoor verlede week hul simpatie met die slagoffer uitgespreek.

“Die klant het ons van die voorval in kennis gestel, en ons het onmiddellik alle beeldmateriaal van hul interaksie in ons winkel hersien en gestoor. Dit is aan die polisie oorhandig, en ons sal voortgaan om die ondersoek op enige manier moontlik te ondersteun om ‘n herhaling te voorkom. Ons winkelbestuurder wil ook graag met die klant vergader om haar welstand na te gaan en enige ondersteuning te bied wat ons kan,” sê die woordvoerder.

“Ons sekuriteitspanne in die winkel is opgelei om verdagte gedrag te identifiseer en aan te meld. Hulle is volledig ingelig oor die omstandighede rondom hierdie voorval om te verhoed dat dit weer gebeur. Ons moedig ons klante aan om altyd ‘n Pick n Pay-personeellid te nader as hulle onseker is of hulp in die winkel benodig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article