KAAPSTAD – Op die vooraand van Kersdag is ‘n bejaarde vrou in ‘n oogwink van haar familie af weggeruk.
Volgens Titanium Securitas, ‘n plaaslike veiligheidsmaatskappy in die gebied, het die vrou se seun haar op Oukersdag (Woensdag 24 Desember) vroeg gaan oplaai sodat hulle bietjie tyd saam kan spandeer. Later die aand het die seun en sy dogter weer gery om sy ma terug te neem na haar woning. Op pad was hulle in ‘n grusame ongeluk betrokke.
Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het die ongeluk bevestig wat omstreeks 21:50 op die hoek van die Eversdal- en Stellenryk-pad in Durbanville in die noordelike voorstede gebeur het.
“‘n 79-jarige vrou is dood weens haar beserings. Volgens berigte was twee voertuie, ‘n wit Hyundai en ‘n maroen BMW, by die ongeluk betrokke. Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek. Die ondersoek duur voort, geen arrestasies is nog gemaak nie. Enigiemand met inligting oor die ongeluk kan Misdaad Stop kontak by 08600 10111 of die selfoontoepassing MySAPS anoniem gebruik.”
Titanium Securitas sê die ander insittendes het geen ernstige beserings opgedoen nie. Nova News het uitgereik na die oorledene se familie, maar het teen publikasie geen terugvoering ontvang nie.
Hierdie ongeluk volg kort nadat die Wes-Kaapse departement van mobiliteit Maandag (22 Desember) bevestig het dat daar 28 ongelukke op die Wes-Kaap se paaie aangeteken is tussen 15 en 21 Desember. In hierdie tydperk is daar ook 30 mense oorlede waarvan 11 voetgangers is.
LEES OOK: Eleven pedestrians among 30 killed op Western Cape roads so far this holiday
Muneera Allie, woordvoerder vir die departement, sê die nuutse padveiligheidstatistieke sal Maandag (29 Desember) bekendgemaak word.





